Georg van Eck
Twee jong ramkatte, wat pas vir die Junior Springbokke aan die IRR Wêreldbeker Junior Kampioenskappe in Frankryk deelgeneem het, Luan de Bruyn (stut) en Jacques du Toit (haker), sal nog tot einde 2014 vir die Vrystaat-Cheetahs en Shimlas beskikbaar wees.
Hulle het waardevolle ervaring teen die beste junior rugbyspelers ter wêreld opgedoen en gehelp dat die Bokkies derde eindig. Dit was so hittete of hulle het netsoos verlede jaar op Stellenbosch in die eindstryd gespeel.
Die naelskraapse nederlaag teen die jong Drake van Walllis het die Bokkies gekelder, maar deur die Baby Blacks in die uitspeelwedstryd om die derde plek te klop, het in ’n mate daarvoor vergoed.
André Tredoux, hoofafrigter van die Vrystaat-Cheetahs se o.19-span en die man wat in beheer is van junior werwing van die unie asook die twee Bloemfonteinse Universiteite, het bekend gemaak dat die dienste van die twee Bokkies vir nog ‘n seisoen bekom is.
Die twee voorrymanne is nie net vir die Vrystaat Cheetahs ’n aanwins nie, maar ook vir die Shimlas waar hulle hul klubrugby sal speel. “Ons wil nie net die dienste van talentvolle rugbyspelers bekom nie, maar ook toesien dat hulle studeer,” het Tredoux verduidelik.
De Bruyn en Du Toit is albei in hul noppies om langer vir die Vrystaat Cheetahs kan speel en gaan die volgende 18 maande alles in die stryd werp om ook ’n senior kontrak hier los te slaan.
Du Toit het verduidelik dat die velde en geriewe in Frankryk puik was, maar dat al die wedstryde selfs die eerste een teen Amerikataai en hard was . “Teen Amerika het ons nog nie mekaar geken nie en dit was ook moeilik op dreef te kom,” het hy verduidelik.
“Jy speel teen elke land se beste spelers. Die meeste wedstryde was baie fisies en jou teenstanders se tegnieke is goed. Jy kon nie ’n teenstander net oorheers omdat jy sterker is nie. Jy moes reg skrum,” het De Bruyn verduidelik.
Albei manne het die afgelope jaar ook baie geleer by die Vrystaat-Cheetahs se skrum- en voorspelerafrigter, Os du Randt. “Dit is wonderlik om deur ’n man, wat in drie Wêreldbeker-toernooie gespeel het, afgerig te word, want jy weet hy weet waarvan hy praat,” het De Bruyn gesê.
Met die twee jong rugbyspelers het die werwers raakgevat. Du Toit, oud-leerling van Grey Kollege, en De Bruyn, oud-leerling van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), het reeds hul merk op internasionale vlak gemaak en kan net ’n aanwins vir die Vrystaat Cheetahs wees.