Twee Bloemfonteiners verrig heldedade in Zim, Mosambiek

0
594
Van links is Justin Colbert en Markes Butler FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die Gift of the Givers was die afgelope tyd aktief betrokke in baie dele van Zimbabwe en Mosambiek nadat die gebied swaar deur sikloon Idai getref is. Twee Bloemfonteiners, Markes Butler en Justin Colbert, het ‘n groot rol gespeel in veral reddingspogings van Gift of the Givers in dié rampgeteisterde lande.

Die organisasie is welbekend vir die hoop wat sy lede aan baie gemeenskappe, wat dikwels alles verloor het na natuurrampe, bring.

Butler vertel hoedat hy, toe hy in Mosambiek aankom ná die verwoestende sikloon, met baie uitdagings gekonfronteer is. Die span waarvan hy deel was, moes in kleiner spanne opgedeel word om te verseker dat slagoffers so vinnig moontlik hulp kry.

Op die foto kan gesien word hoe Zimbabwe gelyk het na die onlangse vloed in die gebied waar Justin Colbert en Gift of the Givers ontplooi is.

“Ons is meer as net ‘n reddingspan. Ons maak seker dat mense mediese hulp kry en ons help ook met ander behoeftes wat die gemeenskap het. Wat dit vir ons die moeite werd maak, is dat ons ander mense kan help.”

Hy sê verder dat die Gift of the Givers-lede soos broers is en weet dat wanneer hulle daar buite is, hulle altyd daar sal wees vir mekaar, iets wat dit alles ‘n bietjie beter maak.
Butler sê die sikloon het nie net die gemeenskap van Beira geraak nie, maar ook die mense wat rondom dié gebied woon. Deel van Gift of the Givers se bydrae tot hulp was die ontplooiing van dokters en verpleegsters.

Dit is ook vir Gift of the Givers belangrik om die ekonomie in die lande wat geraak is, ‘n hupstoot te gee, so alles wat hulle nodig het vir die sending daarheen word in daardie lande gekoop.

Die ander lid, Colbert, het aan Bloemfontein Courant gesê dat wanneer hulle vir so ‘n uitreik gekontak word, hulle altyd probeer om dit in 10 tot 14 dae af te handel, maar afhangende van die situasie in die gebied, kan dit met ‘n week verleng word.

Die Beira-omgewing is swaar getref deur sikloon Idai.

“Ons was vir drie weke in Mosambiek besig omdat ons ook dink aan volhoubaarheid en om seker te maak dinge is in plek daarvoor. Ons het reeds ‘n projek in Mosambiek om te verseker dat die gemeenskap herstel na die sikloon.”

Colbert het verduidelik dat ‘n mens nooit regtig voorbereid kan wees vir wat jy in ‘n rampgebied gaan sien nie. Daar is ook nooit ‘n waarborg dat jy in een stuk terug huis toe sal kom nie en hulle moet dus ook hul gesinne voorberei dat enigiets kan gebeur.

“Ons kon lankal hierdie werk laat staan het, maar omdat ons ‘n passie het vir wat ons het vir wat ons doen, en die liefde wat ons vir ons gemeenskap het, sal ons altyd doen wat ons doen,” het Butler afgesluit. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za