Dit is waar jy die Ford Wildtrak X gaan kry. Die bakkie is onlangs voorgestel aan die Suid-Afrikaanse mark en Bloemfontein Courant het die kans gehad om met Hardus Burger van Human Auto te gesels oor die opwindende nuwe model en als wat hy die bakkiemark bied.
“Die Wildtrak X is bekendgestel om vir ons ’n oorbrugging te gee tussen die Wildtrak en die Raptor,” vertel Burger. “Daar is ’n mark wat só ’n voertuig soek vir 4X4, wat nie ’n ‘extended tank’ wil insit om verder te kom nie.”
Die nuwe bakkie het een opsie, die Wildtrak X kom met Ford se 2-liter Bi-turbo Diesel 165KW motor, en kom slegs uit as ’n 4X4. Die X het “dieselfde spesifikasies as die gewone Wildtrak, plus die kenmerke wat hom ’n ‘off-road’ voertuig maak,” het Burger verduidelik, “die Wildtrak X het ’n Bilstein-suspensie, wat hom ’n breër spoor gee, asook ’n hoër hoogte van die grond. Daar is ook die staaltrappies aan die kante waarmee die Raptor uitkom,” het hy bygevoeg.
Burger het vertel die Wildtrak X is meer avontuur-georiënteerd en het dus sterker, verstelbare dakrakke, asook ’n skuifbare laairak wat verleng kan word om langer toerusting, soos kajakke te laai. Die X het ook “ingeboude kolligte wat saam met die ‘brights’ werk,” het Burger vertel.
’n Aspek wat die X mooi in die middel van die twee ander modelle plaas, is sy laaivermoë. “Die Raptor het nie bladvere agter nie,” het Burger begin, “so as jy hom wil gebruik vir swaar sleep of laai is dit nie jou bakkie nie. Dit maak die Wildtrak X lekker, want hy het steeds bladvere saam met die Bilsteinsuspensie, so jy kry die beste van twee wêrelde.
Jy kan steeds ’n ton laai met hom, en jy kan steeds 3.5 ton sleep – goed wat jy nie met die Raptor kan doen nie, maar jy het ook die opsie om 4X4 te gaan sonder om jou voertuig te verander.”
Die Wildtrak X betree ’n baie kompeterende mark, maar het die kenmerke om baie gewild te word onder Suid-Afrika se meer avontuurlustige 4X4- bakkiekopers. Met ’n prys van R1 013 000 is dit sekerlik meer toeganklik as die Raptor.
Warren Hawkins