
Die Tswellang Spesiale Skool se fondsinsamelingsprojek waar hulle Bloemfonteiners se botteldoppies en broodsak-knippies verruil vir rolstoele vir hul leerders is op koers om hul teiken te haal.
Die projek is saam met die Staatsamptenarevereniging van Suid-Afrika (PSA) aangepak en hul doel is om tien rolstoele aan leerders by die skool te voorsien. Die doel is om 450 kilogram botteldoppies, of 50 kilogram broodsakknippies voor 30 November te versamel.
Die ingesamelde doppies en knippies word dan na ’n herwinningsmaatskappy in Johannesburg gestuur, waarna die maatskappy rolstoele skenk in ruil vir die donasies. Tswellang is afhanklik van skenkings, en het dus met hul “Clips and Caps for Wheelchairs” in Augustus begin.
“Dit vorder baie goed,” het Verna Vorster, skoolhoof by Tswellang vertel. “Ons stuur alles na die PSA se kantoor, so hulle kan ’n beter aanduiding kan gee van hoe naby ons aan die doelwit is”. Vorster vertel ook dat die projek só goed ondersteun word dat mense van buite Bloemfontein al vir die skool doppies en knippies bring.
Alhoewel die projek 30 November eindig, vertel Vorster “ons beplan om ’n permanente ‘drop-off point’ te word,” en die skool hoop ook om vir jare lank die projek aan die gang te hou, om te verseker dat leerders by die skool toegang tot rolstoele het.
Dit lyk tans asof Tswellang en PSA hul teiken gaan bereik, “ons glo so, ons vertrou so,” het Vorster opgewonde vertel, maar daar kan nogsteeds aan die projek geskenk word, en Vorster versoek dat die Bloemfonteinse publiek hul botteldoppies en broodsak-knippies vir die skool skenk voor die einde van die maand.
Warren Hawkins