Tsoseletso sê Auf Wiedersehen

0
502

Familie en vriende van drie graad 11-leerders van die Tsoseletso Hoërskool het onlangs van dié leerders afskeid geneem, kort voor hulle na Duitsland vertrek het op ’n uitruilprogram van die FSA (Friends of South-Africa) Youth Exchange. Die vise-direkteur generaal van onderwys, Motseki Monane, het die geleentheid as eregas en spreker bygewoon.

Vusi Williams, Mpho Nkanyane en Rethabile Mokupi sal onderskeidelik by drie Duitse families in Jena, in Tettnang-Tannau en in Hattingen tydens hul besoek tuisgaan, terwyl ’n vierde leerder, Rose Matli, op 6 Desember ook vir ’n maand na Duitsland sal vertrek.
Twaalf leerders het reeds Duitsland besoek as uitruilstudente van die FSA Youth Exchange sedert die skool by projek aangesluit het. Tsoseletso is die enigste townshipskool in die Vrystaat wat Duits as vak in sy kurrikulum het, en poog om só die beste presteerders te beloon. As dié leerders dan van hul uitruilprogram af terugkom help hulle weer die ander leerders in die klas. Die program help hulle ook om hul horisonne te verbreed en leierskap te ontwikkel.

Hierdie vier leerders sal tydens hul verblyf aan die Duitse kultuur, gesinslewe en skoolstelsel blootgestel word, wat ’n baie verrykende ervaring behels. Die selfstandigheid en lewenservaring waarmee leerders ná so ’n uitruil terugkeer is glo verstommend.
Die ouer-gemeenskap van Tsoseletso het ook al sowat 11 uitruilleerders van Duitsland gehuisves. Die gevoel van hierdie Duitsers was deurgaans dat hulle gebaat het by hul ervaring hier. Hulle meen dat om aan hierdie uiteenlopende kultuur-omstandighede blootgestel te kon wees het direk bygedra tot hul volwassenheid.

Vanjaar se hoofborg vir die program was Deena en Revi Pillay van TAD Consultancy Services. Hulle ondersteun die skool al die afgelope drie jaar in hierdie verband. Kleiner borge soos die Protea Hotel Bloemfontein Central, het ook bygedra.