Trotse oomblik vir rektor en sy gesin

0
558
Prof. Henk de Jager, rektor en visekanselier van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), en sy dogter, Melandie van Heerden.

Bitter spesiaal en ‘n massiewe eer. Dít is hoe prof. Henk de Jager, rektor en visekanselier van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), en sy dogter, Melandie van Heerden, voel oor laasgenoemde se gradeplegtigheid.

Prof. De Jager sê dit was ‘n heuglike dag vir hom en sy gesin, en ‘n groot voorreg vir hom om die verrigtinge waar te neem op die dag wat sy dogter graad gevang het.
“Dit was regtig baie spesiaal, maar dit wys ook vir die mense van die provinsie dat ons as ampsdraers van die SUT volle vertroue het in die kursusse wat ons aanbied. Benewens Melandie, studeer my seun Henko tans landboubestuur aan die SUT.

“Die meeste graduandi van die SUT word gemiddeld binne drie maande deur die mark opgeraap. Die ervaringsopleiding wat SUT-studente moet deurloop, verhoog hul indiensneembaarheid geweldig. Daarom is ons trots op die kursusse wat ons hier aanbied,” het prof. De Jager gesê.

Van Heerden, wat verlede week tydens SUT se jaarlikse gradeplegtigheid graad gevang het, sê was bevoorreg dat haar pa die seremonie waargeneem het. “Dit was vir my so ‘n groot eer dat ek my graad van my pa kon ontvang. Hulle sê mos ‘n skoenmaker se kinders het nooit skoene nie. In ons huis was dit lank ‘n geval van ‘gegradueerdes se kinders het nie grade nie’.

“Gelukkig is dié droogte nou finaal gebreek. Ek het wel in 2017 ‘n graad in sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit behaal. Daarna het ek deeltyds by SUT ingeskryf vir ‘n B-Tech-graad in projekbestuur,” het Van Heerden gesê.

Sy het reeds by haar ma se onderneming, Sereni T, as bedryfsbestuurder ingeval en hoop om die kennis wat sy in projekbestuur opgedoen het, hier toe te pas. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za