Trompsburg-drie hofsaak uitgestel

0
4271

Lani Fouché

Die drie mans wat verdink word van die gru-moord op ‘n bejaarde egpaar van Trompsburg, was verlede week weer in die dorp se landdroshof. Die saak is daar tot 6 Desember uitgestel. ‘n Hofbeampte het gesê die verdagtes het net vlugtig verskyn, en die saak is uitgestel sodat verdere ondersoeke gedoen kan word.
 
Moketsi MacDonald, Nkululeko Mvumvu en Phinias Mothibi het na bewering vir Johan (71) en Ceclie (72) Fourie op hul plaas, Knoppe, net buite Trompsburg in September vermoor. Hulle het glo byle en grawe gebruik kom die egpaar dood te slaan.
Die verdagtes het tydens hul vorige hofverskyning vroeër in Oktober nie om borgtog aansoek gedoen het nie.

Hul regsverteenwoordiger wat met Legal Aid geaffilieer is, Siphamandla Mbebe, het vroeër aan Courant gesê hy het hulle daarteen geadviseer, omdat dit in hulle eie belang was. Die egpaar se seun, Nico Kruger, het vroeër gesê hy is baie dankbaar dat die drie agter tralies bly. “Ons wil nou net hê die reg moet geskied. Dit was alles baie traumaties.”

Lede van die gemeenskap, waar die verdagtes gewoon het, het gesê hulle is dankbaar dat die drie in hegtenis geneem is, omdat hulle gereeld verwoesting in die township gesaai het. Hulle behoort glo aan ‘n bende wat dreig om die vroue in die township in hul huise te verkrag, en breek glo gereeld in verskeie huise in.