Trollip skuldbekentenis vertel verregses se plan

0
673
MARINÉ JACOBS

‘n Skuldbekentenis wat afgelê is deur een van die vier verregses wat daarvan beskuldig word dat hulle ANC hoofleiers wou doodmaak tydens die party se verkiesingskonferensie in Desember, sê dat ‘n onvermoë om mortiere in die hande te kry die rede is hoekom hulle die plan laat vaar het. Mark Trollip, Johan Prinsloo en Martin Keevy is gister borgtog in die Bloemfontein Streekshof geweier, terwyl hul mede-beskuldigde, Hein Boonzaaier, borgtog van R80 000 toegestaan is.

Die vier verregses is op 16 Desember verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van hoogverraad en sameswering op terreurdade te pleeg. Kort na sy arrestasie het Trollip ‘n skuldbekentenis afgelê waarin hy erken dat daar planne was om die ANC-konferensie met mortiere op te blaas. In die bekentenis, wat in Courant se besit is, sê Trollip dat hul geveg nie teen swart mense is nie, maar eerder teen die regering wat blankes onderdruk. “Ek is ‘n Godvresende burger van hierdie land. Ek is ‘n man wat die woord van God lees. Daar sien ek dat ek wel ‘n eie reg het en dat ek onder God se volk ‘n stuk grond verdien om self te beskik. Daarom soos die mense met my gepraat het, waar ek sien hoe die wit boere doodgemaak word op ‘n gruwelike manier en daar is geen vooruitgang (sic) dat dit gestop kan word. Daarom het ek ‘n besluit geneem toe die mense met my gepraat het van verskillende groepe, want swart mense wil die witboere doodmaak, byvoorbeeld Malema wat sing ‘Bula Amabulu’, en verskeie ander leiers en Mnr Zuma homself.”

Trollip vertel verder hoe hy kontak met ander verregses gemaak het, wat ook soos hy ‘n haat gekoester het rakende al die gruwelike plaasmoorde. Hy het wyd gesoek na iemand wat aan hom mortiere kon verskaf vir hul aanval op die ANC Verkiesingskonferensie. Ongeveer ‘n week voor sy in hegtenisname het hy kontak gemaak met ‘n man wat aan hom die mortiere sou verskaf. Hy vertel dat die man egter op die laaste minuut kop uitgetrek het. “Ons het gewag, maar daardie aand 09h00 het hierdie swart man die ander man gebel en gesê hy vertrou nie hierdie vrede nie, want daar is ‘n polisievoertuig wat daar rondry en hy stel nie meer belang om die kans te vat nie. Toe het ek gesê ek dink dit is beter so en die hele transaksie afgestel. Volgens my was die hele ding van die aanval wat ons wou loods afgestel.”

Trollip, Keevy en Prinsloo sal in aanhouding bly tot die saak op 25 Maart weer voor die hof kom.