Trauma ‘n realiteit in SA

0
858

CHRISTAL-LIZE MULLER

‘n Toename in voorvalle van misdaad en verkragting, asook hoë ongeluksyfers in Suid-Afrika, maak trauma ‘n realiteit in die land. Daarom is dit belangrik dat die publiek bewus is van wat trauma behels en weet waar hulp beskikbaar is om dit te verwerk. Só het Amanda Appelgryn, woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, Vrydag gesê met die viering van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Wêreld-traumadag.
 
Dié dag word gevier om bewustheid oor trauma te kweek en hulde te bring aan nooddiens-paramedici, medici en ander personeel wat daagliks direk by trauma betrokke is.

As deel van die Mediclinic Bloemfontein se vieringe, in samewerking met ER24, die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens en verteenwoordigers van die Nasionale Vervolgingsgesag, is ‘n wrak van ‘n motorongeluk in die Mimosa Mall uitgestal. Dit was hoofsaaklik om ‘n boodskap uit te dra dat die veiligheid van kinders in motors noodsaaklik is. Volgens Lukas Bezuidenhout, hoof van die ER24-nooddienste in Bloemfontein, moet kinders in motors met veiligheidsgordels vasgemaak word. "Hulle is nie daar om lugsakke te wees nie".

Maatskaplike werkers en beraders was ook beskikbaar om oor trauma met mense te gesels. ‘n Maatskaplike werker by die Pelonomi-hospitaal in die stad, Ethel Botha, beskryf trauma as ‘n situasie of voorval waar ‘n persoon buite beheer is weens byvoorbeeld ‘n skielike ongeluk, egskeiding, verkragting of situasies wat verwerk moet word. Volgens haar behels trauma ‘n intense vrees en hulpeloosheid. Sy het verduidelik dat daar ‘n 24 uur-krisisdiens by die Mediclinic Bloemfontein en die Pelonomi-hospitaal beskikbaar is waar ontlonting en berading deur maatskaplike werkers en beraders aan pasiënte gegee word.

In baie gevalle ontvang familielede en naasbestaandes van die pasiënte ook berading om trauma te hanteer. Volgens die noodeenheidbestuurder van Mediclinic Bloemfontein, Johan Matthee, is die beskikbaarheid van inligting noodsaaklik om mense te help om ernstige beserings te voorkom.
christal-lize@centralmediagroup.co.za