Die plaaslike sportman, Gerhard Beukes, het die afgelope Saterdag vir 201.7km op ‘n Wattbike fietsgetrap ten bate van kinders wat in nood is. Beukes het om 05:00 by die Sports Performance Clinic begin met sy sessie en vir ses ure lank, tot 11:00, sy staal getoon. Hy het verskillende borge gekry om sodoende ‘n donasie aan Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat te doen. Hy het meer as R20 000 ingesamel vir die twaalf kinders wat deur organisasie bedien word en vir wie hy gery het. Hy het gesê dit is baie vervullend om te weet dat dit vir só ‘n goeie doel is. Ander fiksheidsbewustes kan Saterdag 5 November ook vir liefdadigheid gaan trap. Die geld wat met die Wattbike-uitdaging ingesamel word, word direk aangewend vir ‘n kind wat terapeutiese ondersteuning nodig het en deur die organisasie ondersteun word. ‘n Maksimum van agt deelnemers per span kan deelneem. Elke spanlid moet ‘n borg van ‘n minimum van R20 per kilometer kry. Daar sal in 30 minuut-intervalle getrap word met ‘n 10 minuut rustyd tussenin. Belangstellendes kan inskryf by events.itensityonline.com of skakel die Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat kantore by 051-430-3311 vir meer inligting.