Transito-rooftogte begin weer kop uitsteek. Dít terwyl die nasionale misdaadsyfers, wat verlede Vrydag bekendgestel is, toon dat dié tipe rooftogte die afgelope finansiële jaar ‘n afname in die Vrystaat getoon het. Die polisie se provinsiale hoof van kommunikasie, brig. Sam Makhele, sê die polisie is bekommered oor twee transito-rooftogte verlede week in Bloemfontein en nog ‘n voorval gister op Bronville. “Ons het planne in plek om dié voorvalle te verhoed.” Makhele verwys na “‘n groep” wat rondbeweeg en geldelike instellings en ondernemings teiken. Makhele wil geen afleidings maak oor die moontlikheid van die betrokkenheid van ‘n sindikaat nie. “Ons moet die polisie se intelligensiediens die geleentheid gee om dieper te grawe.” Hy gee egter die versekering dat die polisie sal aanhou soek totdat die booswigte aangekeer word.
Die Valke in die Vrystaat se kapt. S’fiso Nyakane sê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met ‘n gewapende transito-rooftog by ‘n inkopiesentrum Maandag in Bronville nie.
Polisiewoordvoerder Mamello Mokhuoane het kort ná die voorval gesê twee mans, albei gewapen, het ‘n veiligheidswag van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy omstreeks 10:00 by die uitgang van ‘n inkopiesentrum voorgekeer. Hulle het ‘n wapen op hom gerig en geld, wat hy by ‘n supermark afgehaal het, geëis. Die rowers het met ‘n wit Mercedes-Benz met ‘n GP-registrasienommer op die vlug geslaan. Niemand is in die voorval beseer nie.
Nyakane sê rowers word ook gesoek nadat drie sekuriteitswagte van Fidelity Coin Services Vrydagmiddag by ‘n onderneming in Hilton, Bloemfontein, beroof is. Vyf gewapende mans het toegeslaan op die geldwa wat by C&F Motor Spares gestop het. Een van die sekuriteitswagte is in die gesig geslaan en het nekbeserings opgedoen. ‘n Vuurwapen is gesteel.
Volgens Nyakane word ‘n groep rowers ook in verband met ‘n gewapende transito-rooftog by ‘n bank in Prellerplein verlede Woensdagmiddag, gesoek. ‘n Veiligheidswag van die sekuriteitsmaatskappy, SBV, is in dié rooftog gewond. Volgens haar het een van die rowers ‘n wag, wat saam met ‘n kollega die bank verlaat het, met ‘n 9mm-pistool in die hand gewond.
Die Valke het die ondersoek na al drie voorvalle oorgeneem.
Intussen waarsku Makhele die publiek om nie nuuskierig te wees of betrokke te raak nie wanneer swaar gewapende rowers in openbare plekke gewaar word. Die publiek se veiligheid is belangrik. Hy sê die polisie kan nie mense weghou wanneer transito-geldwaens naby is nie, maar wanneer mense vermoed iets gaan gebeur, moet hulle hulself beskerm en nie nader gaan nie. Gewapende rowers skroom nie om te skiet nie.
Die misdaadsyfers sal later in detail op provinsiale vlak op ‘n mediakonferensie deur die provinsiale polisiekommissaris, Thabethe Mpembe, en die LUR van Polisie, Butana Komphela, ontleed word. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za
Date: