Christal-lize Muller
Trane van blydskap en dankbaarheid het gevloei toe Yolandé, vrou van die voormalige Bloemfonteinse onderwyser, wyle Pierre Korkie, die naweek die man wat vir hulle vrylating in Jemen onderhandel het en sy gesin, ná meer as 'n jaar weer in haar tuisdorp gesien het.
Die Suid-Afrikaanse noodleningsorganisasie, Gift of the Givers (GOTG) se voormalige verteenwoordiger in Jemen, Anas al-Hamati, het met Yolandé herenig ná hy verlede jaar op 10 Januarie, sowat agt maande nadat die egpaar op 27 Mei 2013 in Taiz ontvoer is, vir haar vrylating onderhandel het. Hy het haar op 13 Janaurie die laaste keer gesien voor sy na haar kinders in Bloemfontein teruggekeer het. Al-Hamati het hom ná die Korkies se ontvoering by die ondersoek aangesluit en persoonlik met Al-Kaïda-militante vir die Korkies se vrylating onderhandel. Yolandé is op 10 Januarie 2014 vrygelaat. Al-Hamati, geklee in GOTG-drag was alleen toe sy aan hom oorhandig is. Geen losprys is vir haar vrylating geëis nie. Pierre was steeds in aanhouding.
Yolandé het vir 'n kort tyd saam met al-Hamati, sy vrou Fadia en hul dogtertjie Reetal, by sy oom se huis in Sana'a tuisgegaan. Fadia was toé swanger met hul seuntjie, Elyas. "Dit is 'n voorreg dat Anas besluit het om sy vrou en kinders saam te bring en ek klein Elyas kon sien," het Yolandé gesê toe Bloemfontein Courant Saterdag die Al-Hamati-gesin ontmoet het. Anas het Suid-Afrikaanse verteenwoordigers van GOTG vergesel om kospakkies aan behoeftiges by Heidedal uit te deel ter herinnering aan Pierre en sy gesin. Yolandé was ook daar. "Ons het altyd gehoop dat Pierre hier sal wees om Anas te ontmoet en dankie te sê," het sy gesê.
Al-Hamati vertel sy besoek aan Yolandé is die hoogtepunt van sy eerste besoek aan Suid-Afrika. Hulle het die naweek die geleentheid gebruik om inligting te deel oor al die gebeure in Jemen vir Yolandé se boek, wat na verwagting vroeg volgende jaar uitgegee word. Hy is ook in Suid-Afrika om opleiding te ontvang en sy ondervinding oor die onderhandelings in Jemen met die onderhandelaar, Mohamed Yehia Dicko, te deel. Dicko is betrokke by die onderhandelings vir die vrylating van Stephen McGown, 'n Suid-Afrikaner wat die afgelope drie jaar in Mali gyselaar gehou word. Volgens Yolandé het McGown se familie Suid-Afrikaners se ondersteuning en gebede nou nodig. Sy meen dit is nie 'n situasie waaraan enige mens gewoond kan raak nie. Dit bly moeilik.
Al-Hamati het vertel omstandighede was die naweek baie meer ontspanne as toe hy in Jemen saam met Yolandé was. "Dit voel nie nou meer of dit my werk is om haar veilig te hou nie. Dit is 'n goeie gevoel." Hy sê hy was deurentyd onder geweldige druk, selfs ná die mislukte reddingspoging deur Amerikaanse magte om Korkie se medegyselaar, Luke Somers, te ontset. Dit gaan nou egter beter met Al-Hamati en sy gesin. Hulle bly in in Egipte. Hy vertel Fadia was ook destyds baie gespanne en sy was boonop swanger. Yolandé het Fadia beskryf as 'n "sterk vrou" wat haar man deur dik en dun bygestaan het.
Al-Hamati het in 2012 by GOTG in Jemen aangesluit weens 'n ernstige tekort aan kos in die land. Hy vertel die goeie noodleningswerk wat GOTG onder leiding van Imtiaz Sooliman in Jemen doen, het hom aangespoor om betrokke te raak by die Korkies se situasie."Ek het probeer om terug te gee aan Suid-Afrika omdat GOTG só betrokke is in Jemen." Dit was ook vir hom 'n persoonlike uitdaging. Ná Yolandé vrygelaat is, het Al-Hamati besluit om nie tou op te gooi nie. Hy wou voortgaan om vir Pierre se vrylating te onderhandel. "As jy iets in die lewe aanpak moet jy aanhou en jou taak voltooi. 'n Mens kan nie ophou of terugstaan nie. Dit is dalk deel van my persoonlikheid." Al-Hamati het so goed gevoel nadat Yolandé vrygelaat is en wou sy belofte nakom.
Eerste ontmoeting in Jemen
Die eerste keer wat hy Yolande gesien het was in Abyan."Ek was aanvanklik baie bekommerd oor Yolandé se veiligheid. Ek wou haar net veilig terugkry in Suid-Afrika, omdat daar geen sekerheid was dat sy veilig in Jemen was nie. My regering het geweet ek was betrokke by die onderhandelings om Yolandé se vrylating en omdat sy 'n buitelander was het die presidentskantoor en veiligheidsdienste in Jemen oorgeneem. Nie almal in Jemen is terroriste en ontvoerders nie. Daar is baie goeie mense."
Al-Hamati het Yolandé aan Mogamat Jaffer, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Saoedi-Arabië, besorg. Jaffer het gereël dat sy uit die land geneem word. Al-Hamati het dadelik op Pierre se vrylating gefokus. Verskeie probleme het egter opgeduik en sy lewe was in gevaar. Hy moes moes noodgedwonge uit Jemen vlug enkele dae na Yolandé veilig in Suid-Afrika was. Al-Hamati is na Dubai en toe na Jordanië. Al was hy nie in Jemen nie het hy voorgtegaan met 'n plan om te onderhandel. "Ek het 'n ander strategie en ander mense gebruik." Hy het met Yolandé se vrylating direk met Al-Kaïda gepraat." Al-Hamati is later terug na Jemen om plaaslike stamhoofde te betrek sodat hulle met Al-Kaïda vir Pierre se vrylating kon onderhandel. Terselfdertyd het hy 'n lae profiel gehandhaaf.
Pierre se dood
Al-Hamati was verslae oor Pierre se dood op 6 Desember verlede jaar. "Ek het aan Imtiaz gesê dit kan nie waar wees nie. Ek moes Pierre dan bevry."Kort na die mislukte Amerikaanse aanval het Al Kaïda die stamhoofde aangeval wat op pad was om Pierre te bevry. 'n Stamhoof is in die aanval gedood. Al-Hamati het weer uit Jemen gevlug. Volgens hom het Al Kaïda geweet hy is steeds betrokke by die onderhandelings met die stamhoofde.
"Ek het nie toe omgegee nie, want ek het sukses gehad met Yolandé se vrylating en ek was naby om sukses te behaal met onderhandelings vir Pierre se vrylating." Al-Hamati glo nie aan geweld nie. "Ek het net probeer om kop te hou en gebid." Sy onderhandelings met Al-Kaïda was vreedsaam en tydrowend. Dit het sewe maande geneem om Yolandé te bevry en minder as 'n jaar om vir Pierre se vrylating te onderhandel. In dié tyd het hy, Sooliman en Yolandé noue kontak gehou.
Situasie in Jemen
Jemen was voorheen bekend as "gelukkige Jemen." Nou is daar 'n burgeroorlog in die land, vertel Al-Hamati. Volgens hom wil die voormalige president van Jemen, Ali Abdullah Saleh, Jemen oorneem. "Saleh het geld en ander hulpbronne tot sy beskikking." In 2011 het 'n revolusie teen Saleh uitgebreek. "Ons wou hom stuit en daarom het hy Iran en Houthi-militante, van Mohammed Ali al-Houthi, president van die revolusionêre komitee, betrek. Dit terwyl Saudi Arabië in 'n "idiologiese oorlog" met Iran gewikkel was. "Saudi Arabië het Houthi-militante begin aanval en hul ondersteuning aan die huidige president, Abd Rabbuh Mansur Hadi, gegee. Al-Hamati sê baie mense in Jemen ondersteun Hadi en sy visie om Jemen 'n nuwe federale staat te maak. Hy glo vas die wêreld sal binnekort 'n nuwe Jemen sien sonder terroriste en ontvoerders. Die nood is egter groot in die oorloggeteisterde land. Dit is gevaarlik. Volgens hom is lughawens en hawens vernieting, terwyl die land grootendeels op die invoer van produkte afhanklik is. Mense is honger, gesondheidsdienste is nie beskikbaar nie, terwyl skole en universiteit ook nie funksioneer nie. Kos, wat wel in die land bekombaar is, is peperduur. "Die mense kry swaar en steun op internasionale skenkings." Al-Hamati sê GOTG het nou meer as ooit 'n baie belangrike rol om in die land te speel. "Suid-Afrikaners kan trots wees om 'n organisasie soos GOTG te hê."
Volgens Al-Hamati het sy land nou tyd nodig om op te staan en Jemen weer op te bou. "Oorlog maak 'n mens mal. Eers was ons almal vriende en broers wat een taal gepraat het. Nou is dit soos 'n nagmerrie. Ons is nou vyande."
cmuller@centralmediagroup.co.za