Tralies vaar goed by netbalfees

0
602

MARK STEENBOK

Die Hoërskool Sentraal se eerste netbalspan het Bloemfontein se vlag hoog laat wapper by die agtste Klofie-netbalfees van die Hoërskool Waterkloof, wat besig is om een van die belangrikste netbalfeeste in die land te word.

Die toernooi wat van 26 tot 30 Maart geduur het, het van die beste netbalspanne in verskillende ouderdomgroepe in die land sien meeding. Ongeveer 1140 leerlinge van 37 skole regoor die land het deelgeneem, insluitend ‘n span van Windhoek, Namibië.
Sentraal was onoorwonne in 11 wedstryde en het in net twee wedstryde teen Vereeniging Gimnasium en Hoërskool Stellenberg gelykop gespeel.

Volgens Sare Hattingh, afrigter van Sentraal se eerste netbalspan, was dit ‘n wonderlike ervaring vir die span
"Ja, dit was ‘n goeie ervaring, die formaat het dit moontlik gemaak dat daar geen druk was op die span om goed te doen nie," het Hattingh aan Courant vertel.

Volgens die krag-teen-krag-reëls en formaat van die kompetisie was daar geen pryse of wenners na die tyd aangewys nie. Sodoende het geen span meer as een wedstyd teen dieselfde span gespeel nie en kon hulle soveel moontlik teen mekaar speel.
Volgens Hattingh is hulle bly oor die uitslae, maar bly "plat op die aarde" vir die seisoen wat voorlê. Die Tralies-netbalspan sal eersdaags in Bloemfontein afskop met hul liga wat op 16 April begin.

Volgens die Klofie-netbalwebtuiste was die toernooi ideaal vir skole om hul netbalvaardighede te verbeter voor die netbalseisoen begin en om ‘n lewenslange liefde vir die sport te kweek.

mark@centralmediagroup.co.za