Tralies bestree in hul sport

0
1587
Die oud-Springbok losskakel, Braam van Straaten, is aangestel as Hoërskool Sentraal se nuwe rugby hoofafrigter. Van Straaten het voorheen al by die Wallabies, Haaie en Southern Kings gedien as 'n hulpafrigter. FOTO: GALLO

Die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein belê in hul sport met die aanstelling van ‘n paar groot name die afgelope week.

Die grootste aanstelling is sonder twyfel dié van die skool se nuwe hoofafrigter vir rugby, Braam van Straaten. Die oud-Springbok- en Stormers-losskakel gaan die skool slyp en sy ondervinding sal beslis welkom wees. Tot onlangs was Van Straaten nog die hoofafrigter van die Sentrale Universiteit van Tegnologie Ixias. Hy het die span tydens die 2022 Varsitybeker-reeks geslyp.

Hy het vantevore ook gedien as die skopafrigter vir onder andere die Wallabies (Australië) asook die Southern Kings.

Nog ‘n rugby-aanstelling is dié van die oud-Cheetahs- en Griffons-senter, Joubert Engelbrecht. Engelbrecht, wat ook al ‘n draai in Spanje gemaak het as speler, sal egter nie nét by die skool se rugby betrokke wees nie, maar ook as ‘n onderwyser dien.

Met betrekking tot die skool se krieket, is Brendon Horwitz as die skool se nuwe hoofafrigter aangewys. Horwitz is ‘n oudleering van St. Andrew’s in Bloemfontein en was vir ses jaar die hokkiedirekteur by Saints terwyl hy ook die o.15-spanne afgerig het. Onder Horwitz se toesig was Saints se o.15s in ‘n stadium die voorste span in die land gewees. Horwitz, op sy dag ‘n kranige krieketspeler, was ‘n giftige draaibalbouler. Hy is die seun van die oud-Vrystaat krieketspeler, Owen Horwitz.

Tralies het ook belê in hul hokkieprogram met die aanstelling van Braam van Wyk jr. as die hoofafrigter vir hokkie. Van Wyk is ‘n bekende naam in hokkiekringe, nie net in die Rosestad nie maar ook in Suid-Afrika. Van Wyk is ‘n SAHA-vlak 3 afrigter en is nog ‘n keurder vir die Suid-Afrikaanse o.21 mans-hokkiespan. Hy is tans ook betrokke by die Universiteit van die Vrystaat as hoofafrigter en die Vrystaat-mansspan. Van Wyk was ‘n skitterende verdediger op senior provinsiale vlak in sy speeldae, en is tans ook die President van die Vrystaatse Hokkievereniging. Van Wyk kan ook sy man staan met die fluitjie en het tot dusver 19 internasionale wedstryde behartig.

Die bekende swemafrigter en voormalige Olimpiese swemmer, Simon Gray, het ook bevestig dat hy sy swemklub, Super Seals, na Sentraal verskuif. Die skool het onlangs hul swembad opgegradeer. Die swembad gaan ook binnenshuis wees en dit sal heelwat aftrek kry met betrekking tot gala’s. Gray het tot dusver in sy loopbaan 31 senior nasionale kampioene en 25 junior nasionale kampioene afgerig, asook 11 Olimpiese swemmers. Die sluit in die Olimpiese goue medalje wenner, Ryk Neethling. Die nou afgetrede voormalige 50m rugslag wêreldkampioen, Zane Waddell, is ook deur Gray afgerig.

‘n Mens hoef nie hard te soek na bekende alumni van die skool wat naam gemaak het in internasionale sport nie. Name soos Zola Budd-Pieterse (atletiek) en Neil Powell (sewes rugby) duik sommer vinnig op. Hopelik sal meer sportsterre – met die belegging wat die skool in hul sport maak – huishoudelike name op die internasionale verhoog word.

Dié beleggings is beslis goeie nuus vir skoolsport in Bloemfontein, asook in die Vrystaat en in Suid-Afrika. – MORGAN PIEK