Tralie-wiskunde en -rekenaarboffin op reis

0
574

"As hy nie skaak speel of wiskunde doen nie, is hy voor die rekenaar besig met programmering."
Só beskryf Jannecke Koekemoer, ‘n onderwyser aan die Hoërskool Sentraal, die uitblinker Albert Dreyer wat verlede week na Hong Kong gereis het danksy sy merkwaardige wiskunde- en rekenaarvaardighede.
Die 15-jarige Dreyer neem saam met die span van die Hoërskool Sentraal aan die internasionale wiskundeolimpiade deelneem waar slimkoppe van regoor die wêreld hul land verteenwoordig. Spanne bestaan uit vier leerlinge elk.
Twee spanne uit die Vrystaat en ‘n span uit die Wes-Kaap verteenwoordig Suid-Afrika. Uit die twaalf leerlinge is vier van die Hoërskool Sentraal, naamlik Soné du Pisanie, Albert Dreyer, Janco Venter en Corle van der Walt.
Wanneer Dreyer op 3 Augustus in Suid-Afrika land, moet hy hom haas na die eindronde van die Suid-Afrikaanse rekenaarolimpiade (Applications Olimpiad) wat in Kaapstad plaasvind. Hy het by hierdie kompetisie betrokke geraak deur die Universiteit van die Vrystaat toe hy met 13 000 leerlinge van regoor die land meegeding en deurgedring het na die eindronde.
Die olimpiade word hoofsaaklik aan leerlinge wat rekenaartoepassings-tegnologie as ‘n vak het aangebied. Leerlinge moet probleme oplos en lê ‘n toets af in programmering. Hulle word toegelaat om van programme soos Word, Database en Presentation Tool gebruik te maak.
Koekemoer sê Dreyer het nie rekenaartoepassingstegnologie (CAT) of inligtingstegnologie (IT) as vak op skool nie. Dit word eers van graad 10 aangebied. Dreyer het al die voorbereiding vir die olimpiade op sy eie gedoen. Sy voeg by dat Dreyer baie toegewyd is.
Die rekenaarolimpiade-bestuurder, Peter Waker, het in ‘n verklaring gesê dat dit die eerste keer is dat ‘n 15-jarige na die finale ronde deurdring. Die olimpiade word hoofsaaklik vir graad 12’s aangebied. "Ons is gewoond dat daar soms leerlinge van laer grade deelneem en hulle vaar oor die algemeen goed. Dit sal egter die eerste keer wees dat ‘n graad 9-leerling aan die finale ronde deelneem," sê Waker. – Mark Steenbok

mark@centralmediagroup.co.za