Tralie-leerder as dubbele SA ski-kampioen gekroon

0
804

'n Beskeie leerder van die Hoërskool Sentraal het onlangs in 'n redelik onderskatte sportsoort in Suid-Afrika behoorlik haar stempel afgedruk.
Die 16-jarige Elizabeth Olivier is vanjaar as onderskeidelik o.18- nasionale en o.21- Alpynse ski-kampioen gekroon. Die Suid-Afrikaanse ski-kampioenskapbyeenkoms het by die Tiffindell-ski-oord, naby Rhodes in die Oos-Kaap, plaasgevind.
Die prestasie het verseker dat sy nou haar droom gaan bewaarheid om aan volgende jaar se Olimpiese Winterjeugspele, wat van 12 tot 21 Februarie in Noorweë plaasvind, deel te neem. Olivier het aan Courant genoem dat sy eers die laaste drie jaar ernstig vir dié sportsoort begin oefen het.
"Dis baie moeilik om die tegniek te bemeester. Ek het vanjaar drie maande by die wintersportakademie by die Tiffindell-ski-oord geoefen. In die tussentyd moet ek volhard met 'n oefenprogram (dry land training) om my in staat te stel om sukses te behaal," sê sy.
Olivier wil, soos haar rolmodel en afrigter, Alex Heath, wat ook Suid-Afrika se suksesvolste Alpynse skiër is, sukses behaal op die Olimpiese Spele.
"Dit is my droom om volgende jaar na die Olimpiese Spele in Noorweë te gaan. Op die lang termyn sien ek myself deelneem aan die senior Olimpiese Spele. Ek sal moet hard werk en aan baie meer internasionale kompetisies moet deelneem, maar ek is vol vertroue dat ek my droom kan bewaardheid," vertel Olivier.
Olivier, wat nes haar drie broers, Francois, Matthys en Benjamin, kompeterend ski, beoefen reeds van kleintyd af die sportsoort.
"Toe ons jonger was, het ons leer ski by een van die plaaslike ski-pubs in Barkly-Oos. Nie baie mense beoefen die sportsoort nie. Dit is 'n tipe living on the edge-gevoel wanneer jy ski en is baie lekker."
Wanneer Olivier nie ski nie, speel sy graag tennis en netbal, maar ski is sonder twyfel haar nommer een-sportsoort. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za