GEORG VAN ECK
Die Toyota Cheetahs van Adriaan Strauss het reeds vanjaar Superrugbygeskiedenis gemaak, maar die span mik nou hoër – na ’n sege oor die Brumbies Sondag in Canberra en daar is geen rede waarop die Cheetahs dit nie kan vermag nie.
Rugbywedstryde word op die speelveld beslis, tog is daar faktore en statistieke wat dit moontlik maak om rugbyuitslae redelik akkuraat te kan voorspel.
Die feit dat net ses punte die Brumbies (60) en Cheetahs (54) op die puntelys skei, dui aan dat die Suid-Afrikaners ’n goeie kans het om Australië se topspan te klop
Die afgelope paar wedstryde was die Brumbies nie naasteby so oorheersend as vroeër die seisoen nie. Die Western Force het hulle Saterdag juis 21-15 geklop.
Daar is wel faktore wat die skaal in die Brumbies se guns swaai. ’n Gebalanseerde span wat die Cheetahs voor en agter kan beproef; hulle speel tuis; in die Suid-Afrikaner Jake White het hulle ’n uitgeslape afrigter wat swakhede in die Cheetahs se mondering sal uitbuit en die skopskoen van Christian Lealiifano om oortredings of foute van die Cheetahs in punte te omskep.
Naka Drotské se afrigtingspan het reeds verkeie kere vanjaar gewys dat hulle ook die vermoë het om teenstanders deeglik te ontleed en hulle daar te slaan waar dit saak maak. Met meer as ’n week om voor te berei sal die Cheetahs se planne agter mekaar wees en die Brumbies kan hulle staal vir ’n ongenaakbare aanslag deur die Suid-Afrikaners.
Die Cheetahs moet al die skietgoed in hul arsenaal gebruik. Van kragtige skrumwerk deur Coenie, Oosthuizen, Strauss, Lourens Adriaanse, Trevor Nyakane en Ryno Barnes tot die aanvallende vermoë van hul spelskepper, Willie Roux, en blitse, Raymond Rhule en Johann Sadie.
Die Cheetahs moet totale rugby speel. Piet van Zyl en Sarel Pretorius moet die onverwagte doen. Baldraers soos Lapppies Labuschange, Strauss en Oosthuizen moet gereeld ingespan word en by die breekpunte en in die lynstane moet Heinrich Brüssow en kie asook Lood de Jager en sy mede-springers goeie balbesit verseker.
Verdediging gaan deurslaggewend wees. Robert Ebersohn sal dit agter moet organiseer en elke Cheetahs moet verdedig of hul lewens daarvan afhang. Die Brumbies terugduik en met plettervatte getem. Dit kan gedoen word en die Cheetahs kan wen.
Superrugbyuitslae: Stormers 30 Bulle 13; Haaie 58 Kings 13; Crusaders 25 Hurricanes 17; Rebels 38 Highlanders 37; Chiefs 26 Blues 16; Force 21 Brumbies 15; Reds 14 Waratahs 12.