Totale ommekeer vir Bloem-dieretuin

0
Totale ommekeer vir Bloem-dieretuin

Mariné Jacobs

“Die dieretuin het ‘n totale ommekeer ondergaan sedert verlede jaar Oktober. Dit is net ’n ongelooflike verbetering.” Só sê Gerda Becker, woordvoerder vir die nie-winsgewende organisasie, Friends of the Zoo (FOTZ).  Die Bloemfontein-dieretuin was verlede jaar ’n paar keer in die nuus in verband met die moontlike verskuiwing daarvan na ’n ander perseel. Dit het gekom ná vrae oor die uitwerking van onder meer die stadsgeraas op die diere.  Siende dat die dieretuin reeds in Augustus 1906 op die huidige perseel gevestig is, is hierdie ’n probleem wat lank reeds bestaan. “Die saak is al lankal met die munisipaliteit bespreek, maar daar is nog nooit daaraan aandag gegee nie,” sê Becker. “As gevolg van baie druk van die DBV en die ongelooflike ondersteuning van die stadsbestuurder, Sibongile Mazibuko, het die munisipaliteit uiteindelik gehoor aan die probleem gegee.”

Tans word daar ‘n impakstudie gedoen rakende die moontlike oplossing vir die probleem. Die impakstudie, wat deur Eco Care Consultancy gedoen word, behels beide ‘n finansiële- en sosiale ondersoek en daar word na talle faktore gekyk insluitend ekologie, omgewing, geskiedkundig, beskikbare fondse, ens. “Dit beteken dus nie noodwendig dat die dieretuin gaan skuif nie. Dalk sal die verskuiwing te duur wees of ander faktore belemmer die idee, dan moet ’n ander oplossing gevind word,” sê Becker. “Alles sal afhang van die bevindinge van die impakstudie wat ons in hierdie jaar sal kry.” Sy sê indien daar wel besluit word om die dieretuin te verskuif, sal die projek drie tot vier jaar neem om te voltooi. Intussen sal die dieretuin ten volle operasioneel wees soos altyd.
Totdat daar ‘n langtermyn oplossing gevind word om die welstand van die diere te verbeter, doen die dieretuin en Friends of the Zoo alles in hul vermoë om die lewensgehalte van die diere te verbeter. "Die hokke het baie aandag gekry, ons het fondse gekry om addsionele voeding aan die diere te gee, die skoonmaak van die dieretuin is opgradeer, groot instansies het betrokke geraak om ons finansieel te ondersteun en ons is selfs nou besig met ‘n projek om beter hokke vir die uile te bou," sê Becker. Sy vertel ook opgewonde dat die dieretuin nou spog met twee splinternuwe intrekkers, Louie en Megan, twee sjimpansees. Die 27-jarige Louie en 15-jarige Megan het ‘n paar weke terug hul intrek in die dieretuin geneem. Die twee is reeds jare lank ‘n paartjie en het al ‘n kleintjie gehad.

Intussen is Bloemfontein-dieretuin steeds oop vir die publiek en het hulle ‘n jaar propvol projekte. "Die omgewing veroorsaak dat die diere swaarkry, maar dit maak ons net nog meer vasbeslote om seker te maak dat die diere se welstand eerste kom," sê Becker. "FOTZ is almal mense met ‘n geweldige passie vir die diere en daarom gee ons ons alles, sonder enige vergoeding as vrywilligers, om die beste te doen vir die diere wat hiér heelbo aan die lys van prioriteite is."

No posts to display