GEORG VAN ECK
Die twee universiteit-rugbyspanne van Bloemfontein, Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat (UV), en Ixias van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), het albei hul voorbreiding vir die taai 2013 nasionale reekse om die ENB Varsity-beker en –skild vir hierdie jaar afgesluit.
Die spelers van beide universiteite in die Vrystaat val egter vroeg in die nuwe jaar in om onder leiding van hul nuwe afrigters te skaaf vir die eerste vriendskaplike wedstryde en daarna die onderskeie reekse.
Die twee oopklubs van die Vrystaat, Bloemfontein-Polisie en Crusaders, het ook tot vandeesmaand voorberei vir die nuwe nasionale Gemeenskapsbeker-reeks en begin ook vroeg in die nuwe jaar met vriendskaplike wedstryde.
Die opwarmingswedstryde gaan baie belangrik wees vir al vier die klubs.
Die spanne van SUT, Ixias en Tjisas, pak die spanne van die huidige houer van die ENB Varsitybeker, Universiteit van Pretoria, se Tuks en Fezelas. Vir die nuwe afrigtingspaar van SUT, Jan du Toit en Skillie Bester, gaan dit ’n baie goeie maatstaf wees van hoe gereed die Ixias is vir die eerste ENB Varsityskild-wedstryd in Bloemfontein.
Ixias begin hul stryd om die ENB Varsityskild teen die omgekrapte span van die Universiteit van die Wes-Kaap in die SUT-stadion op 31 Januarie in Bloemfontein. Daarna volg drie wedstryde teen onderskeidelik die Universiteit van KwaZulu-Natal in Pietermaritzburg, tuis teen Fort Hare en weg teen die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT), wat vanjaar nog in die ENB Varsitybeker-reeks gespeel het.
Die Shimlas speel sy eerste ENB Varsitybeker-wedstryd teen die wenners van die Varsityskild, Wits, op 4 Februarie in Johannesburg.
Daarna kom die spanne van Maties (Stellenbosch) en Tuks (Pretoria) op onderskeidelik 11 en 18 Februarie aan die beurt. Albei die wedstryde word op Xerox-Shimlapark gespeel en dit kan in die Vrystaters se guns tel.
Vir Bloemfontein-Polisie en Crusaders wag daar ook minstens twee vriendskaplike wedstryde elk voordat hulle in hul eerste Gemeenskapsbeker-wedstryde op 16 Februarie op die veld draf.
Polisie word vanjaar deur Barend du Plessis en die voormalige Cheetah-speler, Jaco Coetzee afgerig, terwyl Cameron Malan weer Crusaders sal brei met die hulp van twee voormalige provinsiale spelers, Eddie Fredericks en Ashwell Rafferty.
Bloemfontein se Bobbies speel in Groep B van die reeks onderling teen Pretoria-Polsisie (BB), Durbanville-Belville (WP), Welkom Rovers (Griffons) en African Bombers (OP).
Crusaders sal in Groep C teen Impala (Luiperds), Roodepoort (Leeus), Raiders (Leeus) en Noordelikes (Limpopo) speel.