Toneelstuk eersdaags op die planke

0
290

Die Afrikaanse donker komedie, Die Besoek, is eersdaags op die planke vir gehore om weer ‘n kollektiewe teater-ervaring te deel. Dié spelstuk, vertaal deur Bartho Smit, dien as ‘n makabere gelykenis oor die “koste van liefde en die prys van welvaart” en word beskryf as ‘n uitstekende en aktuele stuk werk wat uiters vermaaklik is, met boeiende kinkels en draaie, wat ook kardinale kwessies van ons tyd aanspreek op satiriese wyse.

Die besoek is ‘n kultuur-hoogtepunt met bekroonde plaaslike talent soos Stephanie Brink, Dion van Niekerk en Rondo Mpiti. Brink, die stad se veteraan-aktrise, keer terug na die verhoog vir die hoofrol wat sy meer as dertig jaar gelede vertolk het. Dion van Niekerk, regisseur van die bekroonde Die Hart Verklap sluit by die geselskap aan saam met ‘n diverse span plaaslike akteurs.

In die regisseurstoel is Walter Strydom, bekend vir bekroonde teaterwerk soos 2017 se Sarah en 2016 se Suiker (albei produksies is vereer as Beste Vrystaatse Produksie). Strydom is vanjaar terug in Bloemfontein ná drie jaar in Toronto, Kanada waar hy ervaring opgedoen het in een van dié stad se vernaamste teatermaatskappye.

Die produksie is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Vrystaat Kunstefees, NATi en die Kunstetrust en debuteer eersdaags vir ‘n 5-vertoning-speelvak as deel van die Vrystaat Kunstefees se 2020-Snelstroomprogram. Vir kaartjies, besoek bit.ly/diebesoek. Die Besoek word van 18 – 20 November 2020 by Ons Kinderhuis opgevoer. Vir meer inligting, besoek die Facebook-blad: Die Besoek.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za