Tom’s Place verdagtes hoor môre hul lot

0
701

LANI FOUCHÉ

Die drie verdagtes in die Tom’s Place moordsaak se lot sal môre in die Vrystaatse Hooggeregshof bepaal word. Regter Albert Kruger het vandag se verrigtinge verdaag, waarna uitspraak môre gelewer sal word.

Advokaat Francois Pienaar het vandag vir die staat tydens sy slotbetoë gesê die feit dat die patroonpunt wat in Ferreira se liggaam gekry is, ooreenstem met die wapen wat een van die beskuldigdes gehad het, en dat die ander twee willens en wetens die plaas betree het met ‘n vuurwapen, genoeg bewyse is dat hul toegesluit moet word.

Ferreira is in November 2011 op sy plaas, Riversford, buite Bloemfontein doodgeskiet. Die verdagtes het glo ‘n gewapende rooftog op dié plaas beplan, nadat hulle te hore gekom het van ‘n dubbelkajuit-bakkie en R2 miljoen kontant wat op die plaas gestoor word.

Die hof het verlede week besonderhede gehoor van hoe die verdagtes – Gilford Mahlakametsa, Hendrik van Schalkwyk en Rodger Siyale – ‘n vuurwapen in die hande gekry het om dié rooftog uit te voer. Mahlakametsa het glo die vuurwapen by hom gehad, en hy het onderweg na die plaas vir sy drie makkers gesê as Ferreira hulle teensit, sal hy skiet.

Patric Mabula was ‘n vierde verdagte, maar hy het verlede week ‘n staatsgetuie geword. Hieroor was wyle Ferreira se vrou, Marieta, ontsteld. "Ek sou graag wou gehad het hy moet ook agter tralies sit. Hy was ook mos deel – nou is hy vry. Maar ons kan niks doen nie. Die reg moet nou sy gang gaan," het sy snikkend aan Courant gesê.

Ferreira was die eienaar van die vulstasie by Tom’s Place buite Bloemfontein. Mariete moes die vulstasie kort na sy dood verkoop, omdat sy dit nie alleen kon bestuur nie.