Die polisie in Bloemfontein en in omliggende townships waarsku motoreienaars om op hul hoede te wees vir diewe wat by geparkeerde motors inbreek.
Polisiewoordvoerder in Mangaung, Ikboeng Hlubi, sê daar is die afgelope tyd ‘n toename in voorvalle waar waardevolle goedere uit motors gesteel is wat in baie gevalle oornag en veral oor naweke in strate of by winkelsentrums geparkeer is.
Sy sê die voorvalle kom in Rocklands, Mafora, Joe Slovo, Bochabela en Phahameng voor. Volgens haar is voorvalle ook al in Batho, Heidedal en Kopanong aangemeld.
Hlubi vra mense om seker te maak dat hulle nie waardevolle goedere in motors los nie.
Waardevolle items moet veilig bewaar word en nie in voertuie gelos word nie, want dit lok booswigte.
Voertuie moet ten alle tye gesluit word en ‘n voertuig se alarmstelsel moet aangeskakel word.
Mense moet ook nie hul GPS-toestelle voor in hul voertuie los nie. Voertuie se vensterruite en deure moet toe en gesluit wees.
Polisiewoordvoerder in Bloemfontein, Chaka Marope, sê soortgelyke voorvalle is ook al in die stad aangemeld. Hy waarsku feesgangers ook teen dié voorvalle, veral met die Mangaung African Cultural Festival, oftewel Macufe, wat nou in die stad aan die gang is.
Marope sê feesgangers moet ook bedag wees op mense wat hulle voordoen as motorwagte, terwyl hulle nie toestemming het om dié diens te lewer nie.
Mense het hulle gisteraand voorgedoen as motorwagte en toegangsgeld gevra waar feesgangers hul voertuie op ‘n perseel naby die feesterrein kan parkeer.
Dít terwyl die eienaar van die perseel nie daarvan bewus was nie en sy toestemming gegee het nie.
As ‘n motorwag verdag voorkom moet dit aan die polisie gerapporteer word, sê Marope.
Dié 19de jaarlikse Macufe-fees het Sondag begin en duur tot eerskomende Sondag. – Christal-Lize Muller/Courant-nuus