Toekomstige Tri- en Duathlon-kampioene in aksie

0
Toekomstige Tri- en Duathlon-kampioene in aksie

Georg van Eck

Vrystaat Triathlon en Duathlon (Driekamp en Tweekamp) het nie verniet verlede jaar se Vrystaatse Sportmedia se Sportvrou van die Jaar, Kate Roberts, ná haar deelname aan die Olimpiese Spele in Londen opgelewer nie. Dié uitputtende sportsoort wat swem, hardloop en fietsry insluit, lok groot belangstelling soos op die Vrystaatse eerste Tri- en Duathlon-ligabyeenkoms Saterdag by Maselpoort te sien was.

Onder die deelnemers was waarskynlik toekomstige sterre soos Roberts asook Erhardt Wolfaardt, Hanré Herbst (seuns o.17) en Madelaine le Roux (meisies o.16), wat al nasionaal en internasionaal presteer het. Die ligabyeenkomste is egter nie net vir kampioene bedoel nie. Vrystaat Driekamp wil dit so inklusief as moontlik maak. Daarom word almal genooi om in die pret te kom deel. Daar word vir verskillende afstande en ouderdomsgroepe voorsiening gemaak.

Met die tweede ligabyeenkoms by Maselspoort eerskomende Saterdag sal dieselfde afstande, kompetisies en tye geld.
Die verskillende afdelings en wegspringtye is: 08:00 – senior afdeling (hier moet jy 21 of ouer wees) geld die Olimpiese afstande
(1 500m swem, 40km fiets, 10km hardloop). Vir die deelnemers en atlete wat net die helfte van die Olimpiese afstande wil aandurf word ook voorsiening gemaak. Om 09:00 spring die o.16 tot o.19-deelnemers weg vir die kompetisie (750m swem, 20km fiets, 5km hardloop).

Om 09:45 spring die deelnemers in die pret-afdeling en jonger deelnemers weg om hul korter afstande in swem, fietsry en hardloop te voltooi.
Vir dié wat verkies om nie te swem nie, is daar terselfdertyd Duathlon (hardloop-fietsry-hardloop) met dieselfde wegspringtye en verskillende afstande.

No posts to display