Tjokkies-leerder sing vir diere

0
955
Graad 6-leerder aan Tjokkies in Bloemfontein, Inge Stoltz, wie se CD nou beskikbaar is by die skool teen R30. FOTO: SAZLY HARTZENBERG

Musiekliefhebber en graad 6-leerder aan Tjokkies, Inge Stoltz, gebruik haar liefde vir musiek en haar mooi stem om diere in die stad te red. Dit nadat sy hierdie week saam met haar kat, wat sy verlede jaar gered het, ‘n liedjie oor diere vir die ander leerders en onderwysers in die skoolsaal gesing het.

Inge het die liedjie, “Rescue”, self geskryf en vertel sy het besluit om ‘n CD te maak toe sy besef het dat diere regtig swaarkry. Sy wou die liedjie vir die skool sing omdat Tjokkies se omgeeprojek vir die kwartaal die insameling van dierekos vir die DBV in Bloemfontein behels. Inge het aan Bloemfontein Courant gesê sy gaan haar CD verkoop teen R30 en die opbrengs skenk vir dierebeskerming.

Sy sê haar liedjie gaan daaroor dat diere beter verdien as dit wat mense vir hulle gee. Sy sing ook oor die liefde wat ander mense vir hulle gee en doen in haar liedjie ‘n beroep op alle mense om haar te help om na diere te kyk.

Inge se twee ander liedjies op die CD is “You’re going to be okay” en “God is aan jou kant”. Volgens haar is dit vir mense asook diere bedoel en wil dit hoop gee vir die toekoms. Sy is ook van plan om by ander skole op te tree en haar CD te verkoop om geld vir die DBV in te samel.

Mense wat belangstel om Inge te help met haar projek asook om die CD te koop, kan die Primêre Skool Universitas kontak.

Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za