Tjokkies is vanjaar ‘n halfeeu oud

0
4634
Hoofseun en -meisie, Adrian de Necker en Carli Momberg, het ballonne in die lug losgelaat ná die verrigtinge FOTO: Heidre Malgas

Die Primêre Skool Universitas, een van die mees geliefde laerskole in Bloemfontein, het op Maandag 20 Januarie ‘n volle 50 jaar oud geword. Die skool bestaan reeds sedert 1970 en staan bekend as Tjokkies vanweë hul sjokoladebruin skooldrag.

Die personeel en leerders by die skool het almal nuwe hempies gedra wat die skool se 50-jarige bestaan herdenk het. Oud en jonk het die dag gevier met kolwyntjies, 50 rooi ballonne, optredes deur die ritmiese groep en pom-poms almalhet vet pret gehad.

In sy toespraak het die huidige skoolhoof, Neels Gunter, die skool se geskiedenis vir die leerders uitgelê en verduidelik hoedat die skool eers uit 87 leerders en 5 onderwysers bestaan het, en vandag spog met 992 leerders, 40 onderwysers, 4 kantoordames, 7 terreinwerkers, 1 terreinbestuurder, 8 middagstudie-onderwysers, 4 musiekonderwysers en 12 kleuterskoolpersoneellede.

“‘n Mylpaal soos hierdie – ‘n 50-jarige bestaansjaar – het ‘n dubbele betekenis: dit wys terug na die lewenspad wat agter jou lê, maar terselfdertyd na die pad wat voor jou lê, want as jy daarmee bely dat die Here jou tot hier gehelp het, dan bevestig jy ook jou vertroue in Hom en dat Hy jou op die pad vorentoe sal dra,” het hy bygevoeg.

Vier van Tjokkies se oudleerders, wat nou ook by die skool werk, het vertel van hul tyd by die skool. Die hoofseun, Adrian de Necker, en hoofmeisie, Carli Momberg, het elk 25 heliumballonne in die lug losgelaat om die verrigtinge af te sluit.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za