Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se Tjokker- en Tienertoneel Bloemfontein-Streeksfeeste is hierdie naweek (2/8) op die verhoog, met die Tiener Streeksfeesfinaal wat op 10 Augustus by die Wynand Mouton-teater plaasvind.
Bloemfontein Courant het na die ATKV uitgereik om meer uit te vind oor die twee toneelfeeste.
“Die Tjokkertoneel is die ATKV se vinnigste groeiende projek wat laerskoolkinders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling, en blootstelling aan goeie literatuur aanmoedig,” het JJ van Niekerk, die ATKV-Toneelaanbod projekorganiseerder, vertel.

“Die tienertoneel is die oudste projek van die ATKV en is in 2024 sestig jaar jonk,” het hy bygevoeg. “Dit is die grootste nasionale toneelprojek in Suid-Afrika en bied ’n unieke platform wat fokus op talent- en kreatiwiteitsontwikkeling.”
Toneelspel mik om laerskoolleerders se selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede en woordeskat te verbeter, terwyl dit hoërskoolleerders toelaat om hul toneelspel te ontwikkel saam met mentorbeoordelaars.
“Skole skryf in vir die ATKV se toneelaanbod deurdat hulle produksies vir hulle leerders skep en dan die ATKV-platform gebruik om te geniet, te groei en te ontwikkel deur die ATKV se mentorskap en leiding,” het Van Niekerk verduidelik.
Vanjaar se tema is Simbiose, en Van Niekerk vertel: “Die intensie van die tema is om gehore, spelers, en stories te laat saamleef om die verskil te kan wees.”
Deelnemers het die onvergeetlike voorreg om hul produksies in ’n teater aan te bied, teaters wat toegerus is met topgehalte tegniese toerusting, en ook gevul met nostalgie wat jong, opkomende talent sal inspireer om hul bes te lewer.
“Ons is opgewonde om die talent en kreatiwiteit te aanskou,” het Van Niekerk gesê, “om elke produksie te benader as ’n lewende organisme, te kyk en te ontwikkel sodat ons die industrie gesond, en as ’n smeltkroes van kreatiwiteit kan ontwikkel.”
Die beste produksies by die streekfeeste sal genooi word om deel te neem aan die finaal wat later in die jaar in die “Kunstekaap (Kaapstad)” plaasvind.
Die Tjokkertoneelstreekfees begin Vrydag 2 Augustus om 16:30 by die Wynand Mouton-teater, terwyl die Tienertoneelstreekfees Maandag 5 Augustus om 11:00 begin by dieselfde lokaal.
Meer inligting is beskikbaar op die ATKV se Facebook-blad, en kaartjies vir die feeste is beskikbaar op Quicket.
Warren Hawkins