Tjisas stuit Hennenman, maar Bobbies en Crusaders val vas

0
Tjisas stuit Hennenman, maar Bobbies en Crusaders val vas

GEORG VAN ECK

Tjisas van SUT in Bloemfontein is ná die naweek se Uitdaagbeker-rugbywedstryde tussen die klubs van die Vrystaat-Cheetahs en Griffons saam met Kroonstad die enigste onoorwonne span. In die nasionale klubreeks om die Gemeenskapsbeker het die Vrystaatse spanne die wind erg van voor gekry. Crusaders van Bloemfontein is op Rustenburg deur Impala 69-17 geklop, terwyl Durbanville-Bellville Bloemfontein-Polisie op Bobbiespark met 95-20 afgeransel het.

Gelukkig speel albei spanne eerskomende Saterdag om 15:00 tuis onderskeidelik teen African Bombers op Bobbiespark en Roodepoort in die Clive Solomons-stadion in Bloemfontein en kan hulle moontlik hul eerste seges behaal. In die Uitdaagbeker-reeks spat die vonke steeds en Tjisas het die opmars van een van die voorlopers in die reeks, Hennenman, gestuit deur die plattelanders 43-25 te klop.

Die twee spanne het mekaar in alle afdelings goed opgekeil, maar die Tjisas se afronding, samespel en ondernemende spel het die deurslag gegee. Vir die studente het Lezar Marnewick, Duan Pretroius en Naude van Biljon in die agterlyn uitgeblink, terwyl Johan Klopper en Fanie Coetzer die pap voor dik aangemaak het. Weermag van Bloemfontein se rugbyspan is met ’n blitsaanval deur Kroonstad in die eerste 20 minute van hul Uitdaagbeker-wedstryd op Tempe onkant betrap en hoewel die soldate teruggeveg het, kon hulle nie die agterstand uitwis nie.

Ná net 20 minute se spel was Kroonstad 25-8 voor en die besoekers wen 38-24 om hul oorwonne status te behou. Weermag het die tweede skof oorheers en die soldate se vier drieë het hulle ’n waardevolle bonuspunt besorg.  Apollos van Bloemfontein-Polisie, wat verskeie sleutelspelers aan die Gemeenskapsbeker-span moes afstaan, was erg ontwrig in hul Uitdaagbeker-kragmeting op Bobbiespark teen Oud-Skoliere van Bethlehem, maar met vurige spelers soos Zander Basson (slot) en Louis Nel (agtsteman) aan die voorpunt het die Apollos nooit gaan lê nie. Oud-Skoliere het 52-17 gewen, maar die Apollos se vier drieë het hulle van ’n bonuspunt verseker.

In die Bobbies-agterlyn het die skakelpaar, Lourens Smith en Gillie Geldenhuys, stewige spel gelewer, terwyl Robbie Erasmus op senter gewys het hy is gevaarlik met die bal in hand deur twee drieë te druk.  Warriors het 49-19 teen Rovers II in Welkom vasgeval, maar die jong spelers van Warriors het veral in die eerste helfte hardnekkig teenstand gebied en rustyd was die telling nog gelykop (19-19). Justin Claassen (binnesenter) se uitstekende spel vir Warriors is met twee drieë beloon.

No posts to display