GEORG VAN ECK
Die 2013 Uitdaagbeker-klubreeks tussen die klubs van die Vrystaat en Griffons het afgeskop en Griffons se klubs het die eerste rondte in hul guns beklink.
Net tien spanne is in aksie nadat die Irawas van die Universiteit van die Vrystaat hulle verlede week onttrek het weens die Kovsies se betrokkenheid met drie spanne in die FNB Varsitybeker-reeks (Beker-, Young Guns- en Koshuis-reeks).
In die vier wedstryde wat gespeel is, het Griffons met drie seges met die louere weggestap. Dit was egter so hittete of dit was twee elk, want die Bloemfontein-Weermag het talle kanse verbrou om sy wedstryd teen Welkom in Welkom te wen. Welkom het 17-7 geseëvier.
In die SUT-stadion in Bloemfontein het die Tjisas die Vrystaat se naam hoog gehou deur Oud-Skoliere van Bethlehem 39-5 te klop. Die wedstryd is soms in die reën gespeel en met die glibberige bal was hantering nie altyd goed nie anders kon die studente selfs meer drieë gedruk het.
Tjisas het goed geskrum, maar Oud-Skoliere se agttal het nooit bes gegee nie en het enduit met mening ingeklim.
Op Hennenman het die tuisspan sy sterk skrumwerk gebruik om die naasbeste span van Crusaders van Bloemfontein 42-7 te klop.
In die ander wedstryd in Bloemfontein het Kroonstad en Warriors mekaar gepak. Die besoekers het te veel skietgoed gehad en het 47-19 gewen.
Uitslae: Welkom 17 Bloemfontein-Weermag 7; Hennenman 42 Crusaders II 7; Tjisas 39 Oud-Skoliere 5; Kroonstad 47 Warriors 19.
Bepalings vir eerkomende Saterdag (tuisspanne eerste genoem en al die wedstryde begin om 16:00): Rovers II t Weermag; Oud-Skoliere t Crusaders II; Warriors t Welkom; Bloemfontein-Polisie t Hennenman.