Tjisas en Kroonstad bo in Uitdaagbeker

0
610

GEORG VAN ECK

Vir die vier klubspanne in die sentrale streek van Suid-Afrika, Sishen (Griekwas), Rovers (Griffons) asook Bloemfontein-Polisie en Crusaders van die Vrystaat is daar geen kans meer om die uitspeeltoernooi om die Gemeenskapsbeker te haal nie.
Die uitspeeltoernooi vind gedurende die Paasnaweek op Outeniquapark in George plaas. Met nog net een ronde wedstryde oor is College Rovers in groep A, Pretoria-Polisie in groep B, Impala van Rustenburg en Roodepoort in groep C en Brakpan in groep D feitlik seker van hul plekke in die nasionale toernooi.

In die Gemeenskapsbeker-reeks die afgelope naweek in Bloemfontein het Roodepoort sy swaar agttal gebruik om Crusaders in die Clive Solomon-stadion te tem.  Die besoekers het 34-15 gewen, maar die tuisspan het hardnekkig teenstand gebied en rustyd was die telling 15-15. As Crusaders hierop voortbou, kan hulle eerskomende Saterdag Noordelikes troef. Bloemfontein-Polisie kon op Bobbiespark nie daarin slaag om African Bombers te stuit nie.

Die besoekers het 34-19 gewen. In die Uitdaagbeker-rugbyreeks tussen die klubs van die Vrystaat en Griffons is Tjisas van SUT en Kroonstad steeds onoorwonne en wanneer die twee spanne mekaar eerskomende Saterdag op Kroonstad pak, kan dit as ’n oefenlopie vir die moontlike eindstryd oor twee weke wees. Tjisas het Rovers II in Welkom 57-3 geklop. Vir die wenspan het Fanie Coetzer, Bertie Burger, Danie van die Merwe en Jean-Luc van Zyl ’n barshou vir die agttal gespeel, terwyl Hanro Pretorius en Duane Pretorius die uitblinkers agter was.

Kroonstad het Bloemfontein-Polisie II (Apollos) 47-12 afgeransel, maar in die laaste 20 minute het die Apollos met mening teruggeveg en twee drieë gedruk danksy goeie balbesit in die lynstane en dryfspel deur die voorspelers.  Uitblinkers in die agttal was William Lean, Jaco Rademeyer en later Johan Estsebeth as impakspeler. Swak verdediging het die Polisiemanne duur te staan gekom, maar Gillie Geldenhuys (losskakel) het weer goeie oordeel aan die dag gelê.

In die Clive Solomon-stadion het Crusaders met uitstekende samespel Welkom 38-31 die loef afgesteek. Vir die agttal het Morne Jason (haker) en agtsteman Gustaf Muller met mening ingeklim, terwyl Lee John (vleuel) en Jone Jansen (heelagter) ook goed vir die tuisspan gespeel het. Warriors het sterk teenstand op Hennenman gebied voordat die tuisspan 31-7 gewen het.
Bloemfontein-Weermag het volpunte verdien nadat sy teenstander, Oudskoliere van Bethlehem, punte gegee het.