Tiende lewe nie vir gemmerkat beskore

0
734
Die gemmerkat wat vir baie lank gely het, is uiteindelik gevang en moes ongelukkig uitgesit word.

Nadat die gemeenskap van Bloemfontein vir sowat twee weke saamgespan het om ‘n gemmerkat by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) te red, blyk alles tevergeefs te wees en klink dit heelwaarskynlik na ‘n baie hartseerstorie. Te danke aan die omgee van mense is die kat, wat sedert Desember verlede jaar in pyn verkeer het en vermoedelik met ‘n gebreekte rug en poot geloop het, gevang en uit sy lyding verlos.

Die kat is vir die eerste keer opgemerk toe dr. Mardi Delport, ‘n dosent aan die Kommunikasie Departement van die SUT, besig was om kos en water uit te sit vir ‘n ander kat, wat sy reeds vir twee jaar daagliks voer. Sy het toe die gemmerkat raakgesien.

Aanvanklik is daar gedink die kat is deur ‘n kar raakgery. Ses weke later het hulle egter met ‘n skok ontdek hoe seer die dier gekry het. Delport het dadelik op haar Facebook oor die kat gepraat en om hulp gevra. Weldoeners het op haar versoek reageer en aangebied om te help om die kat te probeer vang.

Vicki Lubbe en haar vriendin, Mandi Deysel, het van die 18de Januarie af die kat probeer vang, maar kon nie daarin slaag nie, selfs nadat hy hulle op 23 Januarie net-net ontglip het toe hy uit hul hande gespring en weer verdwyn het.

Die kat is daarna vir lank nie opgemerk nie en het eers op 5 Februarie weer verskyn. Daar is dadelik met Lubbe kontak gemaak, en so het die byna onmoontlike taak om kieterkat te vang, weer begin. “Hulle het KFC gebruik om die kat te lok en uiteindelik het hulle daarin geslaag,” vertel Delport.

Die kat was uiteraard baie verwilderd en kwaai en Deysel moes deurloop onder ‘n gebyt en gekrap.

Uiteindelik kon die kat veearts toe geneem word waar dit aan die lig gekom het dat hy leukemie en katvigs gehad het en dat sy agterlyf vol absesse was. Dit het sy spiere verlam en was die rede dat hy sy agterlyf gesleep het. Hy is noodgedwonge dieselfde middag uittgesit. “My hart is stukkend. Sy lyfie gaan veras word,” het Delport gesê. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za