Tien lykshuis-werknemers geskors

0
1421

SABRINA DEAN – Die Vrystaat gesondheidsdepartement sê tien werknemers van die staatslykshuis in Bloemfontein is geskors.

Woordvoerder, Mondli Mvambi, sê die tien werkers het deelgeneem aan die voortgesette staking wat die vervoer van liggame van misdaad- en ongelukstonele belemmer.

‘n Vrou, wat die naweek in ‘n motorongeluk oorlede is, se lyk het ure lank in die son gelê as gevolg van die staking. Vrystaat polisiewoordvoerder, Billy Jones, het vroeër gesê die polisie het die dienste van private begrafnisondernemers gekontrakteer om die probleem op te los.

Intussen het die DA weereens die kop van gesondheids LUR Benny Malakoane geëis. Wetgewerlid, Mariette Pittaway, sê volgens hulle inligting is die staking weens nie-betaling van oortyd.

Sy beweer die lykshuis is een van vele gesondheidsafdelings wat gebuk gaan onder ernstige wanbestuur.