Thusano maak Kerstyd spesiaal vir gestremdes

0
365
Berdine Esterhuyse, takbestuurder, en die span van Thusano Funerals het gestremdes spesiaal laat voel in die Kerstyd

Die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) is oor die Kerstyd bederf toe Thusano Funerals Kersvader gespeel het.

Berdine Esterhuyse, takbestuurder van Thusano Funerals in Bloemfontein, het vertel hoedat ongeveer 35 persone met gestremdhede op 18 Desember deur Thusano Funerals se personeel trakteer is. “Pakkies wat basiese benodigdhede insluit soos sepies, tandepasta, onderarm-aanrol, ‘n waslappie asook lekker bederf-eetgoed en koeldrank is uitgedeel,” sê Esterhuyse.

‘n Spesiale Kersfeeskoek is gebak en Thusano het boereworsrolletjies aan almal uitgedeel.
JC van der Walt, Hoof- Uitvoerende Beampte van Thusano Funerals, het bygevoeg, “Die gemeenskap lê ons baie na aan die hart, en ná so ‘n moeilike jaar, was dit vir ons belangrik om iewers in die gemeenskap weer terug te gee en te wys dat ons omgee en verstaan.”

Thusano Funerals het takke in 21 plaaslike gemeenskappe wat ‘n groot gedeelte van sentraal-Suid-Afrika dek, spesifiek plattelandse gebiede in die Vrystaat en Noordoos-Kaap. Dorpe waar Thusano Funerals teenwoordig is, is Bethulie, Bloemfontein (twee takke), Edenburg, Jagersfontein, Koffiefontein, Philippolis, Rouxville, Smithfield, Springfontein, Trompsburg, Zastron, Burgersdorp, Cradock, Dordrecht en Hofmeyr. “Ons reik graag uit na die gemeenskap en gee terug omdat tye so moeilik is en ons ‘n glimlag op almal se gesig wil sien.”

Esterhuyse vertel die rede waarom hulle hierdie jaar spesifiek die APD gekies het en nie soos gewoonlik ‘n kinderhuis of ouetehuis genader het nie, is omdat hulle hierdie jaar besef het dat hierdie mensies partykeer alleen is in die feestyd.

“Die mense het dit verskriklik baie geniet en ek kon op hulle gesigte sien dat hulle baie spesiaal gevoel het. Dit was lekker om ‘n verskil in iemand se lewe te kon maak,” het Esterhuyse gesê.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za