Thomson slaggereed om ‘n Cheetahs trui te dra

0
504
Brandon Thomson FOTO: GETTY

Die nuut gekontrakteerde Toyota Cheetahs-losskakel, Brandon Thomson, is gretig om in Suid-Afrika te land en by sy nuwe span in te val.

Die Oud-Junior Springbok-agterlyngeneraal het ‘n kontrak van twee jaar met die Cheetahs gesluit nadat hy vir ‘n geruime tyd vir die Glasgow Warriors in Skotland uitgedraf het.

Voordat Thomson homself oorsee bevind het, het hy naam gemaak by die Universiteit van Stellenbosch Maties in die Varistybeker, en toe vir Westelike Provinsie en die Stormers.
Thomson sal Tian Schoeman by die Cheetahs vervang in die nommer 10-trui nadat hy vir Bath in Engeland aangesluit het. Thomson sal egter vir sy plek moet veg aangesien nog ‘n oud-Matie, Reinhardt Fortuin, die afgelope tyd in die losskakel-posisie by die Cheetahs begin het.

Thomson het uit Skotland aan Bloemfontein Courant gesê hy kan nie wag om in Suid-Afrika te land nie, en dat hy graag by die Springbokke, Ruan Pienaar en Frans Steyn, wil leer.

“Dinge is op die oomblik ‘n bietjie chaoties vir my, al die reëlings moet getref word om betyds in Bloemfontein te kom sodat ek kan begin.

“Ek en my verloofde is baie opgewonde om weer tuiswaarts te keer. Dit sal ‘n geleentheid wees om ons familie te sien. Ons het hulle meer as ‘n jaar laas gesien weens die inperking en reisbeperkings.”

“Ek is baie opgewonde om by die Cheetahs in te val. Hulle is ‘n baie opwindende span met ‘n uiters gevaarlike agterlyn as hulle aan die gang kom. Hulle speel rugby wat baie opwindend is, en ek sien daarna uit om ‘n deel daarvan te wees. Ek sien ook daarna uit om by te dra waar ek kan.”

“Die moontlikheid van Ruan (Pienaar) op 9 en Frans (Steyn) op 12 is iets waarna ek baie uitsien. Dit is ouens wat ek op my muur sou plak as tydskrifte nog middel-vouplakkate gehad het. Ek is regtig gretig om alles oor rugby op en vanaf die veld by hulle te leer.”

“Ek wil graag weer huis toe kom en in die sonskyn rondhardloop. Ek het dit vir ‘n geruime tyd nie kon doen nie. Die hoogte bo seevlak vir die eerste paar weke behoort ook pret te wees.”

Intussen is die bepalings bekend gemaak vir die Franchisebeker, in dit sal interessant wees om te sien of Thomson teen sy ou span, die Stormers, sal speel in hul openingswedstryd op 28 Februarie by die DHL-stadion (voorheen Kaapstad-stadion). – MORGAN PIEK