LANI FOUCHÉ
Thea Brits, die dogter van die vermoorde dominee Willem Brits van Harrismith, is van diefstal aangekla omdat sy glo haar verloofde se bankrekening leeggemaak het na sy moord verlede jaar. Vrystaatse polisiewoordvoerder Mmako Mophiring het die aanklag bevestig en dat sy op 8 Februarie weer in die dorp se landdroshof moet verskyn. Die nasionale vervolgingsgesag het vroeër gesê sy staar ook ‘n aanklag van die rig van ‘n vuurwapen in die gesig. Die besonderhede oor dié klag is egter nog duister. Thea se pa en haar verloofde, Gerhardus Vermeulen, is verlede jaar in hul pastoriehuis vermoedelik deur haar broer, Martin, en ‘n medebeskuldigde, Elliot Mhlambi, vermoor. Haar ma, Dorothea, is ernstig beseer en sterk tans in die Life Pasteur-hospitaal in Bloemfontein aan. Martin en Mhlambi verskyn Vrydag weer in die hof.