Tharina skitter by Clover-atletiekbyeenkoms

0
2181
RUFUS BOTHA

Die skitterende hamergooier van die Hoërskool Jim Fouché, Tharina van der Walt, was Saterdag in ‘n klas van haar eie by die Hoërskool Grey-kollege en Hoër Meisieskool Oranje se Clover-uitnodigingsatletiekbyeenkoms in Bloemfontein.

Heelparty van Suid-Afrika se voorste atletiekskole het by die byeenkoms mekaar die stryd aangesê.

Van der Walt het in die afdeling vir meisies 14-jaar in die hamergooi met ‘n uitstekende 52,08m vir goud losgetrek.

Wat hierdie vertoning soveel aansien verleen is dat dit slegs 77 sentimeter kort is van die Suid-Afrikaanse skolerekord (52,85m) vir meisiesatlete in die 15 jaar-ouderdomsgroep. En, Van der Walt kan in 2015 steeds in dié ouderdomsgroep meeding.

Sy het in die proses haar ysterbal 12,49m verder geslinger as die wenner van die afdeling vir meisies 15 jaar, Denecke Prinsloo (Diamamntveld, 39,59), en laasgenoemde se afstand was ‘n Clover-byeenkomsrekord in die 15 jaar-ouderdomsgroep.

Van der Walt het ook met ‘n goeie oorwinning in die diskusgooi vorendag gekom. Sy wen met ‘n afstand van 37,38m en word sodoende aangewys as die beste meisiesatleet van die byeenkoms. Dié eerbewys het sy eienaardig genoeg verdien met haar oorwinning in die diskusgooi en nié die hamergooi, wat die beter vertonings was nie. Die puntestelsel wat gebruik word om die beste vertonings te bepaal is heeltemal té diskusgooi-vriendelik.

Van der Walt het haar byeenkoms met ‘n goue driekuns voltooi toe sy die gewigstootnommer ook gewen het. Haar wenafstand van 13,88m was ‘n Clover-byeenkomsrekord en dit sou haar die bronsmedalje by vroeër vanjaar se Suid-Afrikaanse skolekampioenskap in die afdeling vir meisies 15-jaar besorg het.

Tlotiso Leotlela (Louis Botha) was die vinnigste atleet op vanjaar se Clover-byeenkoms. Leotlela, wat nog in die 16 jaar-ouderdomsgroep meeding het die 100m in 10,85 en 200m in 21,56 afgeblits. Hy het die tweede atleet in albei die genoemde nommers, Carel Koch (Afrikaans Hoërskool Pretoria, 11,18 en 22,11) stukkend genael. Sy tye was ook vinniger as die wenner van die 100 m en 200 m vir seuns 17-jaar.

Heinrich Bruhns (Grey) het in die afdeling vir seuns 16-jaar in drie uitmergelende nommers, die 400m, 800m, en 1500m, mooi oorwinnings gesmaak. Dit was nie soseer sy tye wat beïndruk het nie, maar eerder die taktiese wyse in veral die 800m en 1500m waarmee hy sy teenstanders uitoorlê het wat lank onthou sal word.

Hy het die 400m in 51,87 beklink, die 800m in 1:57,40 en sy derde goud in die 1500m gewen met ‘n tyd van 4:09,85.

Thapelo Mohelela (Louis Botha) en Herman Agenbach (Grey) kan tevrede voel met hulle seges. Mohelela het die 100m-hekkies vir seuns 15-jaar in ‘n haastige 13,50 gewen en Agenbach het in die diskusgooi vir seuns 14-jaar oorwinning gesmaak met ‘n goeie 51,83m. Agenbach se gooi was meer as twee meter verder as sy Grey-spanmaat, Marnich Tessner se wengooi (49,28) in die 15 jaar-afdeling.

Mohelela en Agenbach is aangewys as onderskeidelik die beste baan- en veldnommeratleet in die juniorseuns-ouderdomsgroep.