Terugslag vir kankerlyertjie

0
1105
Kyra Burger se hare het net mooi begin groei na die vorige chemo-behandeling.

Bloemfontein Courant het die afgelope jaar die lewe van die kankervergtertjie, Kyra Burger, gevolg.

In ‘n laaste berig wat op 30 Augustus 2018 gepubliseer is, was daar duidelike tekens dat sy die neuroblastoma-kanker oorwin het, maar in Februarie het die klein dogtertjie ‘n terugslag beleef en wil dit voorkom asof die kanker vererger het.

Ma Mandi Venter vertel dat Kyra reeds in November 2018 haar chemoterapie voltooi het. Sy het egter toe verskeie terugslae ervaar, haar koors het haar talle kere in die hospital laat beland en die meisietjie moes selfs ‘n operasie of twee ondergaan.

Klein Kyra het in Desember begin met bestraling vir die kolletjies op haar lewer. Na die eerste vier sessies het die kolletjies na die helfde kleiner gekrimp. “Hulle het haar urine getoets en haar kankertelling was normaal. Ons was hoopvol dat die laaste vier bestralings die kolletjies heeltemal sou wegneem,” het haar ma, Mandi, vertel.

In Februarie moes Kyra weer gaan vir ‘n MR-skandering. Dit was egter nie goeie nuus nie. “Die dokter het vir ons gesê die kolleltjies op haar lewer het vergroot en vermeerder.

Kyra Burger op haar laaste dag van bestraling.

“Ek het dadelik begin huil en inmekaargesak. Nie net hartseer oor die pad wat voorlê nie, maar omdat sy net begin normaal lewe het. Sy kon trampolien spring, buite speel, haar hare het weer begin groei en sy het uit haar maag begin lag. Ons kon sien hoe gelukkig sy is, nes ‘n kind moet wees.”

Op 6 en 7 Maart moes Kyra na die Kerngeneeskunde-departement gaan vir ‘n MIBG-skandering. Mandi verduidelik dat sy van binne af bestraal kon word indien die kolle op die lewer die isotoop opgeneem het, maar dit was nie moontlik nie.

Dit beteken dat sy nou sterker chemoterapie as die vorige keer moet ontvang en dat daar natuurlik groter risiko’s en meer nadele vir haar is. Haar immuunstelsel gaan ook weer ‘n erge knou kry en sy gaan ook weer ‘n Hickmanline (binneaarse drup) moet kry.

“Ons prober sterk bly, maar kan nie heel en aldag die trane keer nie. ‘n Mens gaan deur geweldige stres en vrees en jy wonder hoe sy hierdie keer die behandeling gaan hanteer. Tot nou het sy alles baie goed hanteer. Sy is ‘n regte champ!” het Venter vertel.

Mandi en pa Brend doen baie navorsing oor die kanker en het ook op ‘n paar hospitale oorsee afgekom wat spesialiseer in neuroblastoma. “Dit is ongelooflik duur, maar as dit is wat sy nodig het om volkome te herstel, is dit presies wat ons gaan doen. Ons kind se lewe is belangriker as aardse goed, maar vir eers wag ons op die dokter se plan en ons vetrou hom.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za