Tel jou woorde… – nuwe wetgewing dalk op pad

0
2868

Die stof het nog lank nie gaan lê nie rondom rassistiese uitlatings in die openbaar. Dit kom nadat ‘n rasseherrie vroeër vanjaar ontketen is toe die eiendomsagent, Penny Sparrow, op sosiale media swart mense met ape vergelyk het. ‘n Rits ander Suid-Afrikaanse bekendes wat op haar uitlating gereageer het, is later by die rassestorm ingetrek. ‘n Wetsontwerp, waarin rassistiese Suid-Afrikaners vasgevat en strafregtelik vervolg kan word, is nou deur die Departement van Justisie opgestel.
Dr. Leon Wessels, voormalige kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), sê om rassisme juridies te omskryf sodat haatspraak en haatverwante misdrywe strafregtelike gevolge het, is moontlik, maar dit sal ‘n baie fyn regsomskrywing verg. Na sy mening is daar nie ‘n duidelike bestaande plan in plek om mense deur “oortuiging en oorreding van rassistiese bane weg te swaai nie”. ‘n Wet om haatmisdade en haatspraak te voorkom en te bestry sal “hoogstens ‘n baie beperkte afskrikmiddel wees”. Daar hang onsekerhede in die lug en meer debatvoering is nodig voordat dié konsepvorm ‘n werklikheid kan word, sê hy.
Ná die Sparrow-herrie het Chris Hart, ‘n finansiële ontleder, uit die Standard Bank-groep bedank. Die bank het hom daarvan beskuldig dat hy op Twitter ‘n boodskap met ‘n rassistiese ondertoon versprei het. Hart het geskryf meer as 25 jaar nadat apartheid tot ‘n einde gekom het, het die slagoffers en die gevoel van geregtigheid en haat teenoor minderhede toegeneem. Gareth Cliff, ‘n Idols SA-beoordelaar en radiopersoonlikheid, is deur M-Net in die pad gesteek omdat hy op Twitter geskryf het dat mense nie vryheid van spraak verstaan nie. Regter Caroline Nicholls het later in die Johannesburgse hooggeregshof beslis dat Cliff met koste heraangestel word as Idols-beoordelaar, want daar was ‘n bindende kontrak tussen hom en M-Net gewees. Velaphi Khumalo, ‘n werknemer by die Gautengse regering, is geskors nadat hy op Facebook gevra het vir ‘n volksmoord van wit mense in Suid-Afrika.
Die MRK het ná die Sparrow-voorval ‘n beroep op die publiek gedoen om hom te nader as mense glo daar is op hul menseregte inbreuk gemaak. Sedertdien is meer as 200 klagte, wat verband hou met rassisme, deur die MRK ontvang. Dit sluit klagte uit wat met ander menseregte-kwessies verband hou. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za

Wat beteken vryheid van spraak?

(LET WEL: Die ongeredigeerde weergawe is vandeesweek per abuis in die drukweergawe van Bloemfontein Courant gepubliseer. Ons vra om verskoning vir die tikfoute. Die korrekte weergawe volg.)

In die lig van die wetsontwerp op haatverwante misdrywe en haatspraak, het Bloemfontein Courant by regskenners gaan kers opsteek oor Suid-Afrikaners se reg op vryheid van spraak, veral op sosiale media.
Hermann Fourie, ‘n prokureur van Phatshoane Henney in Bloemfontein, meen daar is ‘n fyn lyn tussen haatspraak en vryheid van spraak. Hy sê enige uitlating wat direk daarop gemik is om ‘n ander te intimideer of te verkleineer, kan iemand in die moeilikheid laat beland. Die Grondwet, en meer spesifiek die Handves van Menseregte, maak in artikel 15 en 16 voorsiening vir mense se reg op vryheid van spraak. Dié reg is egter nie absoluut nie. Dit word deur die Grondwet en ander wetgewing, soos die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Wet op die Voorkoming van Onregverdige Diskriminasie, ingeperk. “Enige geval word aan die hand van dié wetgewing en heersende regspraak deur die Departement van Openbare Vervolging en die Menseregtekommissie (MRK) in ag geneem wanneer sekere uitlatings geëvalueer word.”
Willem de Klerk, ‘n prokureur in Mediareg in Johannesburg, sê vorme van spraak soos haatspraak of uitlatings waarin geweld aangehits word,is onaanvaarbaar. Diegene wat hulle daaraan skuldig maak, het nie aanspraak op vryheid van spraak nie. Hy sê die Wet op Gelykheid verskaf aan mense, wat glo hulle is te nagekom deur rassistiese en seksistiese stellings, ‘n siviele remedie. In dié geval kan ‘n siviele saak in die gelykheidshof volg. Fourie verwys na die gelykheidshof in die saak tussen AfriForum en Julius Malema. Daarin is bepaal dat publikasies of uitlatings nie beoordeel moet word aan die hand van hul geskiedkundige konteks of die bedoeling van die betrokkene nie. Dit gaan oor die effek wat die publikasie op die groepe of persone wat direk daardeur geraak word, het. Vryheid van spraak word ingeperk deurdat dit nie strek tot propaganda vir oorlog nie. Dreigende geweld mag nie aangehits word nie. Daarmee saam mag haat nie verkondig word wat op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens gegrond is nie. Dit mag ook nie lei tot leed nie.
Fourie beveel aan dat mense hul eerder weerhou van enige uitlatings wat op sekere ondertone sinspeel, juis om verwarring op sosiale media te voorkom. Dit is neusie verby as iemand ‘n stelling op sosiale media maak wat onvanpas is en die rooi ligte kan laat flikker. “Jy kan nie ná die tyd sê dit is nie hoe ek dit bedoel het nie.” Stel voor die tyd vas of besluit of dit werklik nodig is om ‘n stelling te maak, veral op sosiale media, sê Fourie.
De Klerk sê uitlatings soos dié van Penny Sparrow veroorsaak wrywing in gemeenskappe en hou ontstellende gevolge in. Sodra vryheid van spraak in Suid-Afrika gereguleer word, is daar egter gevaar, want as uitlatings wat aanstoot gee aan ander nie gemaak kan word nie, word mense se vryheid van spraak ingeperk. Dit is mense se reg en dit moet in enige demokrasie geduld word dat daar minder gunstige en selfs kontroversiële uitlatings gemaak kan word, sê hy. “Sodra ‘n mens van regulasie van spraak begin praat, raak ek bekommerd.”
Sekere menings soos ‘n strafsanksie teen Sparrow of dat mense wat rassistiese opmerkings gemaak het agter tralies hoort, is egter gevaarlik, sê De Klerk.
Wessels sluit daarby aan. Die MRK het ten doel om die praktyk van rassevooroordeel te onbloot deur byeenkomste en stereotipes te ondersoek en sake voor die gelykheidshof te bring. Mense wat hul skuldig maak aan rassisme kan in dié hof voor stok gekry word. Hy glo egter sodra iemand krimineel vervolg word, kan die gevaar ontstaan dat die MRK dit nie as ‘n hoë pioriteit vir hulle sal sien nie. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za