Teenboeliespan besoek Bfn-skool

0
1220
Leandie Bräsler, afriForum se bestuurder vir jeugleierskap, spreek leerders van die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein toe.

Die burgerregteorganisasie, AfriForum, se teenboelieveldtogspan het onlangs
‘n besoek aan die Lettie Fouché Skool in Bloemfontein gebring. Dié veldtog dien om bewusmaking van afknouery in skole te skep en sluit inligtingsessies met leerders in.

Die veldtog skep reeds sedert 2017 regoor die land bewustheid en bemagtig laerskoolleerders om teen boeliegedrag op te staan en sélf ’n verskil in hul skole te maak. AfriForum het in 2020 nog ’n been van die teenboelieveldtog bekendgestel wat meer op hoërskole en die tema van selfdood fokus. Leandie Bräsler, bestuurder: jeugleierskap van AfriForum, het gesê die doel van die inligtingsessies is om leerders te bemagtig.

Ilze van Zyl, onderwyseres aan die Lettie Fouché Skool, het vertel dat leerders van dié skool se arbeidsgerigte fase (ouderdom 15–18 jaar) die teenboeliepraatjie baie geniet het. “Dit is belangrik dat elke leerder veilig voel by die skool en weet hoe kosbaar elkeen van hulle is. Die praatjie was toepaslik omdat dit by ons gesondheid-en-veiligheidstema ingepas het, wat juis oor boelie handel.”

Bräsler het gesê dat dit vir AfriForum belangrik is om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.

“Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Met ander woorde, om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik.” Die doel van hierdie praatjie is dan juis ook om leerders te bemagtig.”

Skole kan ‘n e-pos stuur aan nicolene.muller@afriforum.co.za of leandie. brasler@afriforum.co.za as hulle van dié aanbiedinge wil gebruik maak.

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za