Tassie-projek weerspieël gees van Kersfees

0
938
Vrywilligers het bymekaargekom om 400 tasies vir behoeftige graad 1's te pak.

Kersfees kruip al nader en dit het weer dié tyd van die jaar geword wanneer omgee vir ander ‘n groot rol in die samelewing speel. Solidariteit Helpende Hand-lede het dan ook weer bewys dat hul hande vir niks verkeerd staan nie.

Solidariteit Helpende Hand se Tassieprojek sal in 2019 sy 12de bestaansjaar vier. Dit beteken dat daar volgende jaar matrieks gaan wees wat in 2007 hul skoolloopbaan begin het met ‘n Helpende Hand-tassie in die hand. “Volgende jaar gee Helpende Hand weer ongeveer 5000 tassies aan behoeftige graad 1’s, wat die totale getasl tassies sedert 2007 op amper 40 000 te staan laat kom,” het Kobus Venter, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand Vrystaat, gesê.

Op Saterdag 8 Desember het vrywilligers uit die 21 takke van die Vrystaatstreek bymekaargekom en byna 400 tassies vir die streek gepak. Die 400 tassies sal in 2019 aan 20 skole in die streek uitgedeel word.

“Die beginsel agter die tassieprojek is dat almal die kans moet hê om gelyk weg te spring. Die tassie is van hoogstaande gehalte en ‘n leerder kan dit maklik tot aan die einde van sy graad 3 jaar gebruik. Daar is ook basiese skryfbehoeftes in, wat HB-potlode, ‘n skerpmaker, uitveër, liniaal, skêr, gom, uitdraaikryte, inkleurpotlode, klei, ‘n wit bordjie met merkers insluit asook elke leerder se eie Bybelboekie met 52 Bybelverhale.”

Kobus Venter kan gekontak word 051-430-6152 vir enige navrae, of ‘n e-pos kan gestuur word na kobus@heplendehand.co.za.

“Die projek poog om ‘n onmisbare bydrae tot kinders se lewens te maak en behoeftige graad 1’s in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.” – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za