Tannie Judy het ‘n hart van goud vir diere

0
837
Judy van Zyl saam met Tiny wat al meer as 17 jaar by haar woon.

Die Bloemfonteiner van die Jaar in 2011, Judy van Zyl (80), is steeds ‘n reddende hand vir die stad se diere. Sy het in 2008 die nie-winsgewende dierewelsynsorganisasie, Pet Action, gestig.

Van Zyl het aan Bloemfontein Courant vertel dat haar reis met diere op ‘n baie jong ouderdom begin het omdat sy sonder ouers grootgeword het en sy haar troos in diere gevind het. Van 30 honde van haar eie het sy nou 9 oor en dit is vir haar die lekkerste ding om elke dag tyd met hulle deur te bring.

En selfs al laat haar gesondheid dit nie regtig meer toe nie kry sy steeds baie oproepe en help sy waar sy en haar span kan. Sy vertel dat in haar tyd het sy al meer as 6 000 diere gehelp en dat haar vrywilligers nou help daar waar sy nie meer kan wees nie.

Pet Action fokus op die sterilisering van diere, en die voorsiening van kos en behandeling. Sy sê met die inperking het dit moeiliker begin raak om in al die groeiende behoeftes te voldoen. “Ek het selfs onder ‘n boom in die koue gaan staan by die Bloemskou net om bietjie donasies in te kry. Maar dit was ook nie baie suksesvol nie.” Van Zyl sê dat mense onkundig is wanneer dit by diere kom, en so word die diere nie mooi versorg nie.

Sy voeg by dat hulle honde en katte het waarna mense kan kom kyk om aan te neem. Maar, Pet Action maak seker dat die mense geskik is om ‘n dier aan te neem. Hulle het tans ook ‘n groot behoefte aan komberse, kos vir honde en katte, en enige donasies om diere in nood te help. Sy doen ‘n beroep op die gemeenskap van Bloemfontein om hulle by te staan.

Vir meer inligting, kontak Van Zyl by 083 637 8491.

Sazly Moses

sazly@mahareng.co.za