E Copy

Date:

Tannie Ans positief oor Wayde se herstel

Bloemfontein se Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer in die 400m, Wayde van Niekerk, gaan weens ‘n dyspierbesering nie verder vanjaar aan byeenkomste deelneem nie, maar dit gaan goed met sy behandeling en herstelproses.

Courant het met sy befaamde afrigter, Ans Botha, gesels en sy sê die behandeling verloop baie goed: “Wayde het ‘n assessering deur ‘n bekende dokter in Munchen, Duitsland, ondergaan en dit was ongelooflik om te sien hoe die man die probleme geïdentifiseer het en hoe hy die behandeling doen.”

Botha het gesê die ligte pyn (“niggle”) wat Van Niekerk die afgelope tyd in sy dyspier ondervind het, is volgens die dokter behandelbaar. “Hy het Wayde ná deeglike ondersoeke begin behandel. Hy gaan ook vir fisioterapie-sessies.”

Volgens Botha, wat steeds saam met Van Niekerk in Gemona (Italië) gesetel is, sal hy weer Donderdag (vandag) die dokter in Munchen besoek om die vordering te monitor en moontlike verdere behandeling (indien nodig) te doen.

“Wayde reageer ongelooflik goed op die behandeling en dit kan net sy loopbaan positief beïnvloed indien hy pynloos en sonder skete kan oefen,” het Botha gesê.

‘n Mens kan jou slegs indink wat Van Niekerk se tyd moontlik in die eindronde by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro kon gewees het indien hy nie las van die genoemde “niggle” gehad het nie? Hy het die wêreldrekord van die Amerikaner Michael Johnson, van 43,18, na 43,03 in Rio verbeter en ‘n mens kan bespiegel dat hy toe al onder 43 sekondes kon genael het.

Courant wou weet wat Botha en Van Niekerk se planne vir 2017 is: “Die hoofdoelwit is om hom voor te berei om sy wêreldtitel volgende jaar suksesvol te verdedig. Enige ander titels en rekordtye sal ‘n bonus wees,” het Botha bygevoeg.

Hoe voel sy oor die skielike wêreldwye media-aandag wat sy geniet ná Van Niekerk se wêreldrekord. “Dit gaan vinnig en ek is redelik moeg, maar hanteer dit soos dit kom. Ek sien egter baie uit daarna om weer terug in Bloemfontein te wees.”

* Botha is Saterdag in haar afwesigheid op ‘n luisterryke onthaal in Gauteng aangewys as Afrigter van die Jaar in Spar se GSPORT-toekennings waar aan vroue in Suid-Afrika erkenning gegee word vir grootse bydraes in sport. Die Minister’s Recognition of Excellence Award is ook aan haar toegeken. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

FS teachers won’t lose medical benefits

Following days of uncertainty, the Free State Department of...

Surviving the VAT increase

During the Budget Speech last week, Minister of Finance...

Geraasbesoedeling in Universitas: Inwoners kla oor nagklubs in Willows

Inwoners van Universitas het hul stem dik begin maak...

11-jarige voltooi Kaapstad Fietsrytoer saam met oupa

Die 2025 Kaapstad Fietsrytoer se jongste deelnemer, die 11-jarige...