Tandheelkundige trauma en die belang van mondskerms

0
2138

Sport word daagliks ‘n beduidende aantal deur soveel kinders beoefen. Tydens kontaksport kan talle beserings aan die gesig opgedoen word, naamlik:

  • laserasies van die lippe en sagte weefsel van die gesig
  • asook frakture van tande of
  • avulsie van ‘n tand (dit is as die hele tand uit die mond verplaas word)

Avulsie van ‘n permanente tand is een van die mees ernstigste tandheelkundige beserings.
Dit is noodsaaklik dat ouers, onderwysers en kinders ingelig word oor die stappe wat gevolg moet word as ‘n tand uitgestamp word. Die uitkoms van die behandeling word bepaal deur kennis en vinnige optrede.
Hoe vinniger die tand teruggeplant word, hoe beter.

Basiese Noodhulp vir as ‘n tand uitgestamp is:

  1. Maak seker dat dit ‘n permanente tand is. Primêre tande mag nie teruggeplant word nie, aangesien daar ‘n kans is dat dit die onderliggende permanente tand kan beskadig.
  2. Kalmeer die persoon.
  3. Soek die tand en tel dit aan die kroon op. Moenie aan die wortel raak nie.
  4. As die tand vuil is, was dit vir 10 sekondes onder lopende water
  5. Herposisioneer die tand terug in die tandkas.
  6. As dit nie moontlik is nie, moet die tand in ‘n stoormedium geplaas word:
  • In ‘n glas melk of sout-oplossing
  • In die mond, tussen die wang en die kiestande
  • Nooit in water nie!
  1. Kontak dringend ‘n tandarts: die tand moet binne 60 minute vandat die voorval plaasgevind het, teruggeplant word.

‘n Individueel, goedpassende mondskerm kan skade aan tande en gesigstrauma voorkom. Die mondskerm word deur ‘n tandheelkundige laboratorium gemaak en hierdie afdrukke word by ‘n tandarts geneem. Dit is ‘n unieke mondskerm en die kleur daarvan kan self gekies word. Hierdie individueel-vervaardigde mondskerms is die beste en bied die meeste beskerming. Hierdie skerms vergemaklik ook asemhaling en spraak, omdat hulle so styf pas. Daar is ook mondskerms wat in die winkels te koop is. Hierdie skerms moet in warm water geplaas word en dan weer in die mond, om sodoende die vorm daarvan aan te neem. Hulle bied nie veel beskerming nie, pas swak en bemoeilik asemhaling tydens sport. Met die dra van ‘n mondskerm tydens kontaksport kan erge trauma voorkom word!

Die artikel is geskryf deur Maureen Vorster van Medicross (051-406-0254)