Talle nuwe aanbiedinge vir OFM-luisteraars

0
2102

Maricelle Botha

As jy die afgelope week of wat op jou gunstelingstasie ingeskakel het en dinge ’n bietjie anders geklink het, moenie jou daaroor bekommer nie, dit is geen April-gekkigheid nie. OFM se programorde is met ‘n bietjie skuur en skommel in ‘n nuwe opwindende reeks programm gerangskik, met ou stemme in nuwe tydgleuwe en nuwe stemme wat beloof om nuwe geur en kleur aan die stasie te bring.

Johrné van Huyssteen sal elke weeksoggend tussen 9:00 en 12:00 saam met luisteraars oor die klankgolwe kuier in sy nuwe program, Oppi Draadloos. Van Huyssteen is ook die aanbieder van ‘n splinternuwe geselsprogram genaamd Kom Praat Met My, Johrné, wat op Sondae om 22:00 uigesaai word. Die gewilde Yolanda Maartens is tussen 12:00 en 15:00 besig om gehore van agter die mikrofoon te vermaak en teen 15:00 neem Martin van der Merwe by haar oor in Siestsa. Van der Merwe is een van die stasie se nuwe handgekose aanbieders en het voorheen die middagprogram by TuksFM behartig.

Die ander nuwe stem waarmee luisteraars sal kennis maak is die van Isabel Venter. Sy sal van middernag tot 4:00 in die week op die lug wees en saai van OFM se derde ateljee by Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark uit. Sy is ook verantwoordelik vir Saterdae se Party Zone tussen 19:00 en 22:00. Weens die gewildheid van OFM se landbouprogramme is die weeklikse uitsaaityd verleng na 4:00 tot 6:00. Christie Hansen behartig hierdie program waar daar ‘n diepte-blik op aktuele landbousake gegee word.

‘n Nuwe versoekprogram is nou op Sondae op die lug. Hier kan luisteraars deur middel van sosiale media, sms’e en boodskappe vir hul gunstelingliedjies stem, 24 uur lank. James Kilbourn is die man wat hier na jou versoeke omsien. Ander opwindende aanbiedinge is The Global Top 30 op Sondae tussen 13:00 en 16:00 wat deur Anna Visser behartig word. Hier kry jy elke week die wêreld se nuutste treffers te hore.

En as jy altyd aspirasies gehad het om jou stem oor die klankgolwe te laat hoor, bied OFM jou nou die kans. Voortaan sal daar geen permanente aanbieder tussen middernag en 3:00, asook tussen 3:00 en 6:00 op Saterdae en Sondae wees nie. Volgens Nick Efstathiou, OFM se algemene bestuurder, is hierdie twee tydgleuwe geallokkeer aan jong opkomende talent om hul slag te wys terwyl hulle touwys gemaak word hoe die bedryf werk. “Ons is op soek na iemand wat passievol is oor ‘n voortdurend veranderende, dinamiese en uitdagende bedryf,” sê hy.

maricelle@centralmediagroup.co.za