Talle kunstenaars ondersteun BFN-DBV

0
638

‘n Inspirerende, sielvolle musiekvertoning met ‘n sterk boodskap van hoop word in die Rosestad aangebied.

Die Afrikaans sangsensasie, Jo Black, die bekende groep, Spoegwolf, sangers Gert Koevert en Swerwer asook die groep, Drywater, gaan Bloemfonteiners binnekort vermaak – alles ten bate van die Bloemfontein-dierebeskermingsvereniging (DBV).

Reinet Meyer, bestuurder van die Bloemfontein-DBV, maak dit duidelik dat hulle vreeslik opgewonde is oor die vertonings wat plaasvind en baie uitsien na die geleentheid. “Dit is sulke wonderlike kunstenaars wat hul harte vir die DBV oopgemaak het,” sê sy.

Die DBV gaan die fondse aanwend om nog ‘n bakkie vir die DBV aan te koop. “Ons het twee bakkies, maar ons is vier inspekteurs, gevolglik het ons die mannekrag om die werk te doen, maar nie genoeg voertuie nie.”

Die vertoning bied die geleentheid vir vriende en familie om lekker saam te kuier en tyd saam te geniet.

Die liefdadigheidskonsert vind more, 2 November, by die Makarios Country Lodge, Abrahamskraalpad, Bainsvlei, plaas. Hekke open om 14:00 en die vertoning begin om 15:00. Daar sal natuurlik kosstalletjies wees vir die wat lus is om aan iets te peusel en so ook ‘n biertent vir die wat wil kuier. Kaartjies is te koop by Computicket teen R150 en R80 vir kinders onder die ouderdom van 12 jaar.

“Ons vra groot asseblief dat die publiek die byeenkoms goed ondersteun. Daar is nog baie kaartjies beskikbaar,” sê Meyer. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za