Talle diere gered ná Jagersfontein-ramp

0
1491
Talle diere is gered ná die ramp wat in Jagersfontein plaasgevind het. FOTO: Verskaf

‘n Week gelede sou niemand kon voorspel dat ‘n ramp die gemeenskap gaan tref nie. Intussen het die wal van die myn se slikdam op Jagersfontein gebreek en verwoesting gesaai.

Die damwal het Sondag omstreeks 06:00 die oggend gebreek en talle huise in die dorp onder water en modder gelaat. Mense en baie diere het in die ramp omgekom, maar te danke aan drie verskillende takke van die Dierebeskermingsvereniging (DBV), is honderde diere gered. Hoewel dit uiters tragies is dat baie diere – troeteldiere sowel as vee – in die ramp omgekom het, het omliggende gemeenskappe saamgestaan om baie weerlose diere te red en na ‘n veilige plek te neem.

Bloemfontein, Virginia en Kimberley se DBV’s het 14 mense afgestaan om te doen waarvoor hulle opgelei is, om diere in nood te red. Hulle het altesaam 568 diere gered, wat bestaan uit 102 honde, 79 katte, 303 hoenders, 56 ganse, 4 koeie, 15 varke en 9 bokke.

’n Senior Inspekteur by Bloemfonein DBV, Reinet Meyer, vertel hoe dankbaar die span is dat hulle so baie diere uit die slik kon red. “Ons het soveel emosies ervaar daardie dag, maar ons is verlig dat ons so baie diere kon help. Dit is ‘n voorreg om ‘n desperate dier te kan help.”

Meyer vertel ook dat hoewel dit hulle mandaat is om diere te red, sien hulle ook die weerlose mense en hulle harte gaan uit na die mense wat deur die ramp getref is. “Van daardie mense het absoluut alles verloor. Party mense het net hul nagklere oor. Ons as die DBV wens al die mense alle sterkte toe om weer hulle lewens op dreef te kry. Ons dink aan julle!”

Die diere word tans by die DBV aangehou tot die eienaars weer op die been is.

Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za