Christal-Lize Muller
Gemeenskapgesondheidswerkers en lede van die Treatment Action Campaign sal nie vanaand deelneem aan ‘n nagwaak buite Bophelohuis, die hoofkantoor van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, in Bloemfontein nie.
Die TAC se provinsiale voorsitter, Sello Mokhalipi, sê die nagwaak is slegs vanaand uitgestel sodat die nodige aansoek ingedien kan word by die Mangaung Metro om ‘n wettige samekoms te hou. Hy sê die TAC wil ook van die tyd gebruik maak om hulle veldtog teen die swak stand van gesondheidsorg in die Vrystaat te hersien.
Die TAC het verlede week aangekondig dat sy lede nagwake elke Woensdagaand vir die volgende ses weke in die stad sal hou.
Meer as ‘n honderd TAC-lede is twee weke gelede buite Bophelohuis weens ‘n onwettige samekoms in hegtenis geneem. Hulle sal weer op 1 September in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.