Taaldag by UV gevier

0
605

Die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat vier vanjaar op 14 Augustus weer Afrikaanse Taaldag. Op hierdie dag in 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig.
Die Genootskap het in 1876 die eerste Afrikaanse koerant (Die Afrikaanse Patriot) gepubliseer. Die GRA is gestig na aanleiding van Arnoldus Pannevis se waarneming dat die taal in die Kaap begin afwyk het van Standaard-Nederlands vanweë die invloed van Europese immigrante en die inheemse bevolking. Die genootskap het ten doel gehad om lees- en skryfvaardighede en Bybelvertalings in Afrikaans te vestig.
Die stigterslede was Gideon Malherbe, C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit, S.J. du Toit, August Ahrbeck, Daniël Francois du Toit, Petrus Malherbe en S.G. du Toit.
Die departement nooi alle taalkollegas en taalstudente om op Taaldag saam met hulle op ‘n tipiese Afrikaans en Nederlandse manier om ‘n boereworsvuur te kuier voor die Flippie Groenewoudgebou, blok B op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Daar sal ook stroopwafels en kondensmelkkoffie te koop wees. Afrikaanse, Nederlandse, Duitse en Franse musiek sal gespeel word terwyl almal gesellig om die braaivleisvuur verkeer, ook vir die genot van verbygangers wat hul gunsteling- Afrikaanse woord of -uitdrukking met ons wil deel. Taaldag is ‘n geleentheid vir die departement om saam met die groter kampusgemeenskap te kuier en om te wys dat die taalgeledere steeds springlewendig en energiek is. Die verrigtinge vind van 12:00 tot 14:00 plaas.