Swemlesse maak ‘n verskil in jong lewens

0
1383
Leerders van Happy Finches wat swemlesse ontvang het saam met hul afrigters en skoolhoof. Agter is van links Rushny Kruger, skoolhoof, en Marco Markgraaff, direkteur van National Youth Sports Program.

Die nie-winsgewende organisasie, National Youth Sports Program (NYSP), spesialiseer daarin om kwesbare kinders te leer swem. Daar word ook swemlesse aangebied aan mense wat nooit die geleentheid gehad om te leer swem nie.

Swemafrigter Marco Markgraaff het hierdie organisasie begin met die doel om kinders in kwesbare gemeenskappe te help om dié sportvorm op ‘n professionele manier te ervaar.
“Die organisasie wil graag sportprogramme aanbied waar daar werklike waarde vir leerders is. Ons doen dit nie om ‘n regmerkie te kry nie, maar om ‘n verskil te maak en om ook aan die borge te wys dat hul geld goed gebruik word,” het Markgraaff gesê.

Dis weinig dat iemand ‘n skool nader en gratis swemlesse aanbied, en toe Markgraaff met ‘n skool in Heidedal in verbinding tree, was die skoolhoof verheug en meer as gretig om deel te neem. Leerders van Happy Finches ECD, geleë in Heidedal, word nou in groepe van 20 leerders elke Vrydag van 09:00 tot 12:00 geleer om te swem.

Die swemlesse word aangebied deur Markgraaff se eie swemskool in die stad. Hul plan is om te groei en uit te brei na plekke nader aan die leerders, aangesien vervoer een van die hindernisse is.

“Drie van ons, Jaco Peyper, Ruan Botha en ek, is almal gemoeid met sport in Suid-Afrika en betrokke by die program. Ek het na hulle gegaan met die idee en hulle het my heelpad ondersteun. Omdat sport nog altyd deel van ons lewens is, het ons besluit om iets terug te gee.” Die rede waarom hulle swemlesse aanbied, is omdat hulle wil hê dat kinders water moet leer ken, respekteer en verstaan hoe lekker dit is, maar ook hoe gevaarlik dit is.

Volgens ‘n verslag van Happy Finches se skoolhoof, Rushny Kruger, is dit vir die Graad R-klas ‘n eenkeer-in-‘n-leeftyd geleentheid. Swemuitrustings is aan al die kinders geskenk vir gebruik by die fasiliteit, insluitend ‘n swembril en -pet. Dit het ook daartoe gelei dat twee van hul onderwysers die geleentheid gekry het om Vlak 1-afrigting te ondergaan.
Markgraaff en sy span het planne om uit te brei en meer skole te nader.

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za