Swak ekonomie ‘n kwelpunt vir bejaardes en hul familie

0
169
Die ouer mense by Mooihawe besig om handwerkartikels te maak.

Die swak ekonomie in die land het ‘n groot invloed op die lewenstandaard van baie ouer mense wat in ouetehuise en aftreeoorde woon. Bloemfontein Courant het met die bestuurder van die Vrystaatse Bejaardesorgsentrum (Mooihawe), Corlia Karsten, gesels en sy het verduidelik dat die rede vir die leë beddens in aftreeoorde die gevolg is van die hoë koste van versorgingsdienste en ook die feit dat mense finansieel swaar trek en nie meer altyd in staat is om finansiële bystand aan die oumense en hul familie te bied nie.

Karsten sê die rede vir die talle leë kamers wat vir sorgdienste toegewys is, is die onbekostigbaarheid daarvan vir mense in die middel- en laer inkomstegroep. Dit was nooit in die verlede so nie, hoewel Mooihawe steeds ‘n groot aanvraag na selfstandige en ondersteunende verblyf ervaar.

Sy het verder verduidelik dat Mooihawe besef hoe belangrik dit is om aan te pas by die ekonomiese klimaat van die land. Dit het genoodsaak dat hulle met ‘n nuwe model na vore gekom het. “Voornemende inwoners het nou’n keuse of hulle net verblyf wil hê en of hulle etes, hulp met medikasie, semisorg- of volsorgdienste saam met hul verblyf benodig.” Inwoners betaal dan volgens die dienste wat aan hulle gelewer word.

Mooihawe hoop om met hierdie model meer bekostigbare verblyf aan ouer persone in Bloemfontein en die Vrystaat te bied.

“Mooihawe het ook `n voorsieningsfonds begin om bejaardes wat nie meer sorgdienste kan bekostig nie, by te staan. Kerke, besighede en private persone word genader vir moontlike borgskappe om te help om die tekorte wat ervaar word, aan te vul,” sê Kasten.

Volgens haar kan verskillende donateurs saamspan om `n betrokke inwoner te ondersteun of `n gedeelte van `n inwoner se koste te help dra. Deur borgskappe sal die inwoners die nodige sorgdienste kan bekostig en `n waardige en betekenisvolle bestaan kan voer.
“Ons is ook besig om fondsinsamelings-projekte te loods, onder meer `n kuieroggend wat op 5 Oktober sal plaasvind, `n mini-kermis en ‘n rommelverkoping. Ons is baie afhanklik van die gemeenskap se bydraes” sê sy.

Nog ‘n aftreeoord, Siesta, se algemene bestuurder, Hannah Geyser, het aan Bloemfontein Courant gesê bejaardes word steeds gereeld na ouetehuise gestuur vir versorging en tans is 28 beddens in die verswakte eenheid gevul. Die uitdaging vir Siesta spesifiek, is egter tweevoudig.

Aan die ander kant het hulle bejaardes binne ‘n kort tydjie verloor weens natuurlike sterftes – ‘n probleem wat elke instelling van dié aard ondervind aangesien die inwoners ‘n hoë ouderdom bereik en baie verswak. “Die verlies van ‘n inwoner dra by tot finansiële spanning aangesien die oorhoofse uitgawes ten opsigte van bedryfskoste, onder meer maandelikse munisipale uitgawes (gemiddeld R95 000 per maand) en salarisse vir verpleeg-, kombuis-, skoonmaak- en toegangsbeheerpersoneel dieselfde bly,” het sy verduidelik.

“Ons bemark Siesta as aftree- en versorgingsoord op soveel moontlike vlakke om Bloemfontein se gemeenskap bewus te maak van die verskillende dienste wat by Siesta gebied word. Deel van ons bemarkingsveldtog is om die plaaslike besighede van Bloemfontein op een of ander manier betrokke te kry by Siesta,” sê sy. “Ons gaan binnekort ‘n nuwe, aparte afdeling open vir die versorging van geestelik gestremde pasiënte bo 40.”

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za