Swaar reën veroorsaak ontwrigting in Welkom en omliggende dele

1
2493

‘n Hewige reënbui het gistermiddag oor Welkom en omliggende dele uitgesak en groot ontwrigting veroorsaak.

Assistent-brandweerhoof van die Matjhabeng-nooddienste, Francois Klaassen, sê dit het katte en honde gereën.

Hy is egter nie bewus van enige ernstige voorvalle wat aangemeld is nie. Klaassen sê hy was op pad huis toe op sy motorfiets toe hy in die reënbui vasgevang is.

Die paaie was oorstroom. Verkeersirkel is oorstroom. ‘n Mens kon nie die sypaadjies sien nie.

“Al die motors het basies in die middel van die pad “gekanaliseer”, omdat die water langs paaie opgedam het. Dit het verkeersvloei belemmer. Oproepe is ook ontvang waar huise in Thabong oorstroom het nadat die water in paaie opgedam het en in huise gevloei het.

Verskeie berigte van inwoners van die stad is ontvang wat aangedui het dat tussen 35mm tot 85mm reën gemeet is. Swaar reën het veral in die oostelike voorstede voorgekom. ‘n Boer buite die stad het meer as 60mm op sy plaas gemeet. – Christal-Lize Muller

FOTOS: WELKOM CITY/STAD (FACEBOOK)